Update
RIVERSDAL NUUS - Daar's 'n neiging onder sommige kinders tussen die ouderdomme van 15 tot 16 jaar om nie skool by te woon nie.
Dit het ouers en die plaaslike polisie raadop.
Adjudant-offisier Hans Busch van Riversdal-polisie het in 'n onderhoud met Suid-Kaap Forum vertel dis 'n tendens wat nou al 'n wyle by van die plaaslike skole kop uitsteek: jong leerders, in die fleur van hul skoolloopbane, wat eenvoudig verseg om by die skool op te daag.
"Ouers kom kla verniet," sê Busch. "Die polisie se hande is afgekap. Ons kan nie teen dié drosters optree nie, al wil ons ook graag."
Al meer ouers bel hom op sy werksfoon of besoek die polisiekantoor om hieroor te kla.
"Die polisie mag onder geen omstandighede die kinders by hul huis gaan haal nie. Net so mag ons hulle nie van die skool af, èn diegene wat op straat ronddrentel, huis toe neem nie. Dit laat ons kwesbaar, want van die kinders neem kanse en versprei leuens dat ons hulle kwansuis aangerand of onbehoorlike voorstelle aan hulle gemaak het.
"Slegs as onderwysers of 'n ouer teenwoordig is, mag ons kinders na en van hul skole vervoer. Dis nie ons werk nie. Uit 'n praktiese oogpunt is dit in elk geval nie haalbaar nie, want ons kantoor is onderbeman èn onder druk om ons hulpbronne beter aan te wend om misdaad te bekamp en wet en orde te handhaaf."
Busch sê die meeste van dié skooldrosters is welsynsgevalle. "Jy kan daarop peil trek dat daar groot huislike probleme by só 'n huis is: afwesige ouers, dwelm- en drankmisbruik - en dit alles lei tot swak of bykans geen dissipline nie.
"Boelies by skole is nie 'n groot oorsaak van dié wegblyery nie, hoewel dit in uitsonderlike gevalle 'n rol kan speel. Eerder groepsdruk, tesame met huislike probleme."
Busch sê dis belangrik dat kinders wat toelaes van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) ontvang, wel wetlik verplig is om skool by te woon.
"As kinders dus dros, is dit belangrik dat dit by Sassa aangemeld moet word. Deur dit te verswyg, kom dit neer op bedrog en die enigste manier om dit stop te sit is om dit by hulle en die polisie aan te meld."
Wat hartseer is, sê Busch, is dat van die ouers die Sassa-toelaes gebruik vir drank en dwelms.
"Die kinders sien dit en besluit basta met skoolgaan. Dit bly net 'n bose kringloop en kan mens kinders, in 'n huishouding waar daar geen dissipline is nie, dit verkwalik as hulle van skole af wil wegbly?"
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'