Gallery Video
HESSEQUA NUUS EN VIDEO'S - Honderde kinders het hul eerste skooldag in die seëninge van ‘n ligte reëntjie betree, maar kon teen die eerste pouse die strale van ‘n warm sonnetjie op die skoolterrein geniet.
Die streek se skole is gerat om die 2024-skooljaar met ywer aan te pak.
By navraag is bevestig dat daar meestal genoeg personeel is om ‘n gesonde infrastruktuur te verseker. Busvervoer, opvoedingshulpmiddels, sanitêre geriewe en voedselskemas is in plek.
Volgens die meeste van die skoolhoofde het registrasie en toelating glad verloop, hoewel daar hier en daar probleme met aanlyn aansoeke ondervind is.
Van die skole se grootste uitdaging is die groeiende getalle en by party skole moet kinders in mobiele klaskamers gehuisves word. Van die skole is bekommerd oor die oorvol klasse. By party skole is daar slegs 18 leerders per klas, terwyl ander tot 65 in ‘n klas het.
Dit blyk dat geen leerders by enige van die skole weggewys is nie en almal kon geplaas word. Die skoolhoofde wys uit dat die getalle nog kan styg, aangesien ouers nog tot 19 Januarie tyd het om hul kinders in skole te plaas.
VIDEO: Clive Pretorius
Talle nuwe opvoeders is by heelparty van die skole aangestel en hulle sal onder meer in wiskunde, rekenaartegnologie, sosiale, fisiese en natuurwetenskap en tale onderrig gee.
Van dié onnies sal veral op en wakker moet wees, want ‘n aantal tweelinge het vanjaar by van die skole ingeskryf. Een skool spog met drie stelle tweelinge!
Leerdersgetalle (graad een tot sewe) wissel by skole van net oor die 300 tot amper 1 000 leerders.
FOTOGALERY: Graad 1 klas van 2024
Adriano Davids van Panorama Primêr (Riversdal ) sê hy is ‘n groot seun en sien uit na sy eerste skooldag. Foto: Juan-Maré Conradie
Vir Joshua Jooste is dit nie net ‘n gewone eerste skooldag nie, maar ‘n hele nuwe begin. Sy ouers, Jacques en Jacqueline Jooste, het twee weke gelede hulself in Riversdal vanaf Beaufort-Wes kom vestig. Van links is Jacques saam met Olivia, Jacqueline saam met Elana, en voor is Joshua wat bietjie op sy senuwees is vir die eerste skooldag by Laerskool Volschenk. Foto: Juan-Maré Conradie
Kamohelo Stoffels van Voorwaarts Primêr het vinnig afskeid geneem van sy moeder sodat hy sy groot dag kan begin. Foto: Juan-Maré Conradie
Die gr. 1A-leerders van Slangrivier Primêr was baie opgewonde om hul nuwe opvoeder, Eugene Eyssen, te ontmoet. Foto: Clive Pretorius
VIDEO: Bertie die Bosbok verwelkom graadeens by Laerskool Bertie Barnard in Stilbaai, terwyl die skoolhoof, Nicky Deetlefs, en Shaun Doubell toekyk. Video: Johan Victor
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’