HESSEQUA NUUS - Waninligting doen tans die rondte ten opsigte van die raad se goedgekeurde projek waardeur nooderwe vir tydelike behuisingsdoeleindes geskep gaan word.
In ‘n persverklaring meld Didi Budricks, munisipale woordvoerder dat die raad reeds gedurende die 2019/2020 finansiële jaar verskeie werkswinkels oor behuisingsverwante aangeleenthede gehad het en het dit die skep van nooderwe ingesluit.
“Die raad het ‘n bedrag van R900 000 vir die skep van nooderwe in sy huidige boekjaar begroot en word dit tans in Heidelberg (15 erwe); Slangrivier (10 erwe); Riversdal (15 erwe); Melkhoutfontein (15 erwe) en Albertinia (15 erwe) gevestig.”
Die nooderwe-areas word van rudimentêre dienste voorsien wat aan die minimum standaard van die regering sal voldoen.
Die begunstigdes vir die nooderwe word geëvalueer aan die hand van die raad se goedgekeurde beleid vir persone in noodsituasies.
Persone wat ‘n noodsituasie in terme van die beleid ervaar, moet ‘n inwoner van die Hessequa munisipale area wees.
Die beleid is van toepassing op persone wat haweloos geraak het weens die volgende situasies:
- In geval van afgekondigde rampsituasies;
- In geval van buitengewone omstandighede wat nie as ‘n rampsituasie verklaar is nie;
- Mense wat in professioneel verklaarde gevaarlike areas woonagtig is;
- Dreigende uitsettings deur grondeienaars;
- Wettige uitsettings deur ‘n regsproses; ens.
Die proses van evaluering van aansoeke vir nooderwe word ook deur die bogenoemde beleid voorgeskryf en word dit deur die amptenary behartig.
“Hessequa-munisipaliteit wil deur hierdie persvrystelling enige waninligting wat in die verband versprei word, veroordeel en as verdagmakery bestempel, aangesien die Hessequa munisipale gebied oor geen “Plakkerskampe” beskik nie, maar wel oor gekontroleerde informele woongebiede.”
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'