Update
RIVERSDAL NUUS - Die spreekwoord "die hoogste bome vang die meeste wind" het 'n nuwe betekenis gekry toe 'n fris wind, wat soms stormsterkte gewaai het, so twee weke gelede ses groot bome op die Riversdal-gholfbaan omgewaai het.
Twee van dié reuse was op die tweede putjie waarvan een net regs, kort voor die setperk al heelwat van die plaaslike spelers groot kopsere gegee het.
"Die baan sal nou heelwat makliker speel," het een van die klublede gegrap.
Chris van Schalkwyk, bekende plaaslike nutsman, en twee helpers was die Maandag ná die windskade fluks besig om die bome op te saag en te verwyder - 'n taak wat hy pasella doen.
Chris en sy kettingsaag is natuurlik in Riversdal bekend vir die behendige manier waarop hy tjop-tjop met probleembome en palms klaarspeel.
Met sy kettingsaag het Chris van Schalkwyk korte mette gemaak met die groot boomstomp.
Dié knewel is op die tweede putjie van die Riversdal-gholfklub net regs voor die setperk deur die sterk wind omgewaai.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'