Update
HESSEQUA NUUS - Selfverdediging is nie meer 'n rede om aansoek te doen vir 'n vuurwapen nie. Dit is, volgens die nuwe wetgewing op die konsepwysigingswet op die beheer van vuurwapens.
As dié wetgewing in sy huidige vorm aanvaar word, sal niemand meer 'n vuurwapen vir selfverdediging mág koop óf besit nie. Dit is bo en behalwe verskeie ander beperkings wat op vuurwapeneienaars en toekomstige wapeneienaars geplaas sal word.
Mense wat dus nog nie op die konsepwysigingswet kommentaar gelewer het nie, moet opskud. Die sluitingsdatum is eerskomende Maandag, 2 Augustus om middernag.
Die wysigings stel dit ook onomwonde dat die besit van 'n vuurwapen in Suid-Afrika nié 'n reg is nie, maar 'n voorreg wat aan die publiek gegun word. In die nuwe voorwoord tot die Vuurwapenwet is dit, volgens die Grondwet, die staat se plig om openbare orde te handhaaf en elkeen in die republiek te beskerm en beveilig.
Die afgelope tyd se wetteloosheid en plundery het egter duidelik gewys dat die polisie nie bevoeg is om hul grondwetlike taak te verrig nie. Selfs Amnestie Internasionaal het die regering openlik gekritiseer omdat toegelaat is dat die plundery en wetteloosheid vir etlike dae handuit ruk, sonder enige sigbare poging van die polisie om dit te stuit.
In 'n verklaring verlede week het Amnestie Internasionaal 'n beroep op die regering gedoen om volle verantwoordelikheid vir die onluste, verlies aan lewe en die beskadiging van eiendom te aanvaar.
"Die geweldadige plundertogte het die land se veiligheidseenhede se skreiende onvermoë om sy mense te beskerm, blootgelê," het Shenilla Mohamed, uitvoerende direkteur van Amnestie Internasionaal Suid-Afrika gesê.
Maak stem dik
Met 'n moordsyfer vyf keer hoër as die wêreldgemiddelde en geweldsmisdaad op 'n immerstygende trajek, moet elke landsburger die vermoë hê om hom- of haarself en ook hul geliefdes te beskerm. Kriminele werk in groepe en is feitlik altyd gewapen. Sonder 'n vuurwapen staan jy geen kans teen hulle nie.
By 'n vergadering oor die beoogde wysigings vroeër verlede maand, het dr Pieter Groenewald, VF Plus-leier en LP gesê: "Dit is 'n gevaarlike wetswysiging en mense moet besef dit raak nie nét vuurwapeneienaars nie, maar álle Suid-Afrikaners."
Tshepi Mmekwa van Gunowners SA het by dieselfde geleentheid gesê die polisie sal nie mense wat ontwapen is, kan beskerm nie. "Daar is hopeloos te min beamptes. Jy moet jou eie lewe beskerm," meen sy.
Lynette Oxley van Girls on Fire meen die wysigings sal vroue die kwesbaarste maak.
"Ons weier om die wysigings te aanvaar. Ons staan vir vuurwapenopleiding vir vroue om hulself te beskerm."
Dis waarom landsburgers nou moet saamstaan om dié drakoniese wetgewing met hul skriftelike kommentaar in sy spore te stuit.
Jy hoef nie 'n vuurwapeneienaar te wees om jou stem te laat hoor nie. Die uitnodiging in die Staatskoerant om kommentaar te lewer, is aan die breë publiek gerig.
WRITTEN SUBMISSION ON THE DRAFT FIREARMS CONTROL AMENDMENT BILL, 2021.pdf
- Daar is 'n voorafbereide kommentaarstuk wat per epos (by My Voice, publicresponse74@gmail.com) aangevra kan word. Heg dit aan 'n e-pos waarop jy die titel van die dokument intik, asook jou naam en van, posadres, eposadres en telefoonnommer(s) en stuur dit voor middernag, 2 Augustus aan: comments.fcabill@csp.gov.za
Voorbeeld.
Vorige artikel: Selfverdediging geen rede vir wapenbesit
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'