TUINROETE | HESSEQUA NUUS - Die behoud van 'n skouspelagtige, seldsame fynbosstruik, die lobostemon belliformis is verseker danksy die tydige intrede en spesiale maatreëls wat deur die Gourikwa-natuurreservaat naby Gouritsmond in die Suid-Kaap toegepas is.
Die plant, bekend as die Prag van Gourikwa, is 40 jaar gelede ontdek. Dit is in die rooi datalys van kritiek bedreigde spesies opgeneem.
Tot onlangs was daar net van 22 plante kennis wat almal op een klein kol op 'n sandsteenrif op Gourikwa groei.
Wat dit uitsonderlik maak, is die pragtige rooi blomme wat die struik, ongeveer 1.5m hoog van Julie tot Oktober oortrek. Die buisvormige blomme, 30mm lank sit in trosse aan die takpunte.
Jan Vlok, fynboskenner, sê die naam lobostemon belliformis verwys spesifiek na die pragtige vorm van die blomme. "Lobostemon is 'n bekende genus, met 31 spesies wat in die Wes-Kaapse fynbos voorkom. Een van die bekendste is lobostemon fruticosus wat deur die Khoi gebruik is as 'n tradisonele kuur vir ringwurm by mense en diere. Dit is die agt-dae-geneesbossie genoem is.
"Gourikwa se lobostemon is so seldsaam en so geïsioleerd dat dit waarskynlik nooit vir medisinale gebruike benut is nie," sê Vlok.
Meer as 80% van sy habitat, in hoofsaak die Canca-kalksteen-fynbos is in die verlede deur die myn van bousand versteur. Hoewel dit nie meer 'n bedreiging is nie, word hierdie stadig groeiende struik bedreig deur indringerplante, verlies aan habitat en die oes van fynbosblomme.
Gourikwa, die grootste private natuurreservaat aan die Suid-Afrikaanse kus, het streng maatreëls om die habitat te beveilig.
"'n Groot deel van hierdie goed behoue kusstrook word geraak deur ontwikkeling, daarom doen Gourikwa wat hy kan om die duineveld-ekosisteem natuurlikerwys te bewaar," sê Dave Savage, mede-eienaar van die natuurreservaat.
Japie Steenkamp van Nikwaflora,'n spesialiskwekery naby Groot-Brakrivier sê toe die seldsame plant sowat drie jaar gelede by Gourikwa herontdek is, is begin om met 'n paar steggies te eksperimenteer sodat die voortbestaan van dié mooi blom verseker kan word. Die Gourikwa-lobostemonsteggies is nou mooi aan die groei.
Charl Wade, gebiedsbestuurder van die Suid-Kaapse brandbeskermings-vereniging, het self 'n kol van die rooikransindringers rondom die stand van die struik uitgehaal. Niekie Rust, voorsitter van die Duineveld-kusvereniging, het Gourikwa gelukgewens met die bewaringswerk vir die eiesoortige fauna en flora van die duineveldgebied tussen Stilbaai en Gouritsmond.
Die Prag van Gourikwa (lobostemon belliformis).
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'