STILBAAI NUUS - Talitha Noble en Tracy Whitehead van die Twee Oseane-akwarium opleidingstigting het Donderdag 2 Maart 'n praatjie by die NSRI in Stilbaai gehou.
Die doel van hulle besoek was om mense bedag te maak en in te lig oor wat om te doen as klein pasgebore seeskilpadjies uitspoel.
Van Maart tot Junie is die tyd wat seeskilpaaie gebore word en baie beland op die rotse of op die strand.
Talitha Noble van die Stigting sê dat mens hulle nooit net moet terugsit in die water nie. Hou hulle eerder droog en kontak onmiddellik vir CapeNature of alternatiewelik kan die NSRI se plaaslike noodnommer geskakel word.
Volgens Jean du Plessis is CapeNature baie keer in die veld en kan nie bereik word nie. Die NSRI noodnommer is 082 990 5978 en hulle het spesiale houers waarin die seeskilpadjies dan na die Twee Oseane Akwarium geneem word totdat hulle teruggesit word in die see.
Tydens haar praatjie het Talitha gesê dat in die Stilbaai-omgewing waai die wind vanaf die see na die land en dis hoekom hulle hier uitspoel. Met hulle geboorte is die koue water hier teen die kus 'n skok vir hulle en hulle lyk baie keer of hulle dood is, maar dis nie die geval nie.
Met hulle geboorte het die ouers hulle alreeds verlaat en hulle moet dus op hulle eie aangaan en dis hoekom hulle bekendstaan as instink gebaseerde diere. 'n Klein seeskilpad sal in die palm van jou hand pas en hy sal weer gereed wees om terug te gaan see toe as hy so groot soos jou hand is.
Seeskilpaaie begin eers eiers lê in hulle twintigs, maar leef tot in hulle tagtigs. Getalle is drasties aan die afneem as gevolg van die mens en plastiek in die see is 'n groot oorsaak.
As jy op die rotse of strand loop wees bedag op hierdie klein donkerbruin diertjies. Moet hulle nie teruggooi in die see nie, hou hulle droog en kontak die NSRI. Hulle sal seker maak dat hierdie seeskilpadjie veilig by die Twee Oseane-akwarium uitkom vir rehabilitasie.
Talitha Noble van die Twee Oseane-akwarium stigting,
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'