HESSEQUA NUUS - Een van die Suid-Kaap se mees bekende en deurwinterde figure in die landbougemeenskap, Jantjie Horn is op 8 April op sy plaas, Hornstras oorlede. Oom Jantjie was 99 jaar oud op 6 Maart en het hierdie besonderse mylpaal tydens 'n groot samekoms van sy familie gevier.
Volgens sy kleinseun, die wynmaker Jantjie Jonker van Jakkalsvlei, het oom Jantjie 'n ligte beroerte gehad wat stelselmatig in die afgelope paar maande sy gesondheid aangetas het. 'n Kleindogter, Verona Potgieter, het by navraag aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat haar oupa op dieselfde plaas waar hy gebore is, afgesterf het.
Oom Jantjie se gedenkdiens is verlede Vrydag, 22 April in die NG Kerk op Albertinia gehou.
Sinvol
Hy gaan skool op Elbertskraal, waarna hy matrikuleer aan Hoërskool Outeniqua. Volgens inligting verskaf deur die familie, was oom Jantjie in die onlangse verlede, die langslewende matriekleerder tydens 'n reünie van dié skool.
Hy het tydens sy studies aan die Universiteit van Pretoria sy liefde vir genetika besef. Dit is ook hier wat hy sy lewensmaat, Valeara ontmoet.
Hy het 'n besonderse liefde vir Afrikanerbeeste gehad, wat hom gereeld in die Vrystaat laat kom het. Hier het hy sterk vriendskappe gesmee en ook beoordeling gedoen.
Oom Jantjie staan ook sy skoene in die gemeenskap vol deur te dien op verskeie rade en direksies.
Hy was bekend daarvoor dat hy graag sy gedagtes verwoord en ervaringe neergepen het.
Hy het ook, aldus sy kleindogter Verona, verskeie oorsese reise onderneem, waaronder ook landboutoere was. Hierdie wedervaringe is geboekstaaf vir sy nageslag.
Oom Jantjie was wyd belese en het altyd geglo dat as jy leesstof kan deel, enige geskrif dan iets werd is. Tot op 'n hoë ouderdom, was die voer van 'n sinvolle gesprek vir hom belangrik.
Een van sy bekende nalatenskappe, is die padstal by Hornstras waar pampoene op 'n eerlikheidsbasis verkoop is.
Pampoene is gemerk met 'n prys en verbygangers kon dit koop, deur die geld in 'n pyp met 'n gleuf in te gooi. Dié padstal het per geleentheid mediadekking in Die Burger en ook elders gekry.
Oom Jantjie het sy Christenskap tasbaar uitgeleef.
Onthou
In die huldeblyk beskikbaar tydens sy gedenkdiens, saamgestel uit sy familielede sy herinneringe, word oom Jantjie beskryf as die "Gemkem" wat sy familie bymekaarhou, 'n man wat moeite gedoen het om deel van sy kinders, kleinkinders en agterkleinkinders se lewe te wees.
Hy word onthou as spaarsamig en 'n goeie onderhandelaar, veral as dit by die bedinging van afslag kom.
"Oupa se hand altyd oop om te help wanneer dit nodig is.
Party van ons sou nie gewees het waar ons vandag is, sonder Oupa se hulp nie," onthou sy familie.
Hy word beskryf as 'n planmaker en 'n entrepreneur van formaat, wat nog geglo het daaraan om iets reg te maak in plaas daarvan om dit te vervang.
'n Ware heer wie se maniere en kleredrag onberispelik was, 'n doen-mens, eg, one of a kind, eerlik, hardwerkend en dies meer, is woorde waarmee sy familie hom beskryf.
"Oupa is die enigste een in sy 90's wat ons ken wat self vir sy bakkie tralies uit hout bou en op 97 nog pampoene plant en oes.
"Oupa wou op 92 leer om met 'n iPhone te werk en het subtiel vir my 'n les geleer: "keep challenging yourself". Oupa se lewe is die plaas en Oupa se voetspore die kunsmis op die lande. Oupa se mentorskap, belangstelling en tyd beteken vir my baie. Oupa gaan gemis word op die land, maar Oupa sal nog in gees saam met my boer."
Hy laat vyf kinders, 12 kleinkinders en 16 agterkleinkinders agter.
Sy vrou, Valerea het hom reeds ontval.
Jantjie Horn in sy jong dae.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'