Update
RIVERSDAL NUUS - Die voorlaaste skof van die tweejaarlikse Sasol Solar-uitdaagren het laatmiddag op Donderdag 15 September in Riversdal geëindig met inwoners en veral leerders wat die spanne opgewonde by Laerskool Volschenk ingewag het.
Dit was die eerste keer wat Riversdal kans gekry het om gasheer te speel vir die Sasol Solar-brigade.
Van die nege spanne wat op 9 September in Johannesburg by Carnival City op die agtdaagse uitdaagren weggespring het, het ses Riversdal binnegery. Die res is per sleepwa aangery.
Topspanne van Suid-Afrika (Tswane Universiteit van Tegnologie en Noordwes-Universiteit), België (Algoria Solar) en Nederland (Brunel Solar) was in aksie met die sleuteltema van strategie en avontuur in die spanne se visier.
Die Belgiese Algoria Solar-span is tans die globale solarkampioen terwyl die Nederlanders al die globale uitdaag sewe keer gewen het.
Met die vertrek van die spanne op Vrydagoggend, 16 September, was Laerskool Volschenk se sportterrein in 'n see van blou gekleur met laerskoolleerders wat in hul skooluniforms van die spanne afskeid geneem het.
Dié leerders het die Suid-Afrikaanse volkslied gesing en elke vertrekkende span is met groot entoesiasme toegejuig.
Tinus van den Berg, onderburgemeester van Hessequa-munisipaliteit, het die spanne met 'n vlag afgesit op hul laaste rit na Kaapstad. Hy het agterna gesê dié uitdaag was loshande een van die bestes wat hy nog in Riversdal beleef het, veral wat betref die tegnologie wat hier ten toon gestel was. "Ons is deeglik bewus van die energie- en kraguitdagings in Suid-Afrika en ons glo inisiatiewe soos die Sasol Sola-uitdaag sal vir ons 'n geleentheid bied om meer oor die verskillende energiekonsepte te leer."
Die Nerderlandse span Brunel Solar kom Riversdal binnegery op die voorlaaste skof van die Sasol Solar-uitdaag. Foto's: Hugo Redelinghuys
Groot opgewondenheid het geheers by die wegspring op die laate skof van die Sasol Solar-uidaag.
Van den Berg het die hoop uitgespreek dat Riversdal ook 'n solarspan in die toekoms sal oplewer. "Hier is 'n ongelooflike klomp kreatiewe jongmense met breinkrag in Hessequa en ek weet hulle sal begin eksperimenteer met dit wat hulle hier gesien en geleer het."
Robert Walker, eienaar en direkteur van die Sasol Solar-uitdaag, sê hulle was oorbluf, maar in hul noppies met die gasvryheid en vriendelikheid van die inwoners van Riversdal.
"Hulle het ons ongelooflik welkom laat voel." Hy was ook erg beïndruk met die leergierigheid onder jongmense wat meer te wete wou kom oor hoe solarmotors funksioneer.
Die uitdaag het Vrydag by die V&A Waterfront in Kaapstad klaargemaak nadat die solaraangedrewe motors sowat 2500 km afgelê het.
Dis die eerste keer in vier jaar wat die Sasol Solar weer aangebied word en die spanne het deur vyf provinsies en 18 dorpe gery. Een van die groot sleutelfokusse van dié ren is om 'n bewustheid te skep van hernubare en volhoubare energie en veral om 'n belangstelling in wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde by soveel jongmense as moontlik aan te wakker.
Die Tswane Universiteit van Tegnologie het op die laaste skof na Kaapstad eerste weggespring.
Leerders van Laerskool Volschenk het Vrydag 16 September afskeid geneem van die spanne wat aan die tweejaarlikse Sasol Solar-uitdaagren deelgeneem het.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'