Gallery Update
HEIDELBERG NUUS - Die Kairos Alumni-groep het Sondag, 5 Desember 'n baie suksesvolle Gospel Sangskou ter ondersteuning aan hul alma mater aangebied.
Die groep, onder leiding van Luvina Damons het die sangskou aan Covid-19-oorlewendes (survivors) toegewy.
Die verrigtinge in die skoolsaal is goed deur plaaslike, sowel as buurdorpe se musiekliefhebbers ondersteun. Dit is ook deur bekende gospelsangers, Charnell Joseph, 'n boorling van Slangrivier en nou in Beaufort-Wes woonagtig, Pearl Adams van Vredenburg, asook Varonica Meyer van Kuilsrivier ondersteun.
FOTOGALERY: Kairos alumni Gospel sangskou
Die trio, wat elkeen as solokunstenaars optree, vorm ook deel van die Jesus Collective-kunstenaarsgroep. Hulle is goed deur die Rainbow Community Kerk se orkes bygestaan.
Die nagenoeg 100 aanwesiges is deur die prinsipaal, Vivian Prins verwelkom en bedank vir hul ondersteuning aan die skool.
Die bekende pastoor Charlotte Roberts, ook self 'n Kairos Alumni het die onbaatsugtige fondsinsamelingsprojek van die groep ondersteun. Sy het die aanwesiges met Johannes 16 vers 21 geestelik inspireer met haar bondige preek.
Synthia Lotz, plaaslike MIV/Vigsberader het hulde aan die persone wat as gevolg van die virus gesterf het gebring. Sy het almal aangemoedig om die Covid-regulasies en -protokol te volg om die risiko van 'n erge vierde vlaag te verminder.
Kerse is deur verskeie aanwesiges aangesteek ter nagedagtenis aan hul ontslape geliefdes.
Die drie sangers, asook die orkes/sanggroep het die aanwesiges betower met hul geesgevulde aanbiedinge van liedere. Dit was duidelik dat die middag ten spyte van beurtkrag deur almal geniet was.
Damons het na afloop van die verrigtinge almal vir hulle ondersteuning bedank, asook die donateurs en vrywilligers vir hul bydrae tot die sukses van die projek. Die kunstenaars is ook bedank vir hul gratis optredes. Volgens Damons het dié onbaatsugtige gebaar hulle in staat gestel om net meer as R20 000 vir die onkostes van die saal by te dra.
Die sangers en orkeslede van die Rainbow Community Church.
Van links: Vivian Prins, Jason Pieterse (Rainbow orkesleier), Thelma Scholtz, Luvina Damons, Synthia Lotz, Charnell Joseph (sanger), Danielo Michaels, Pearl Adams (sanger), Lester Loverlot, past Charlotte Roberts en Juandré September (Alumni en programdirekteur).
Vorige artikel: Gospel sangskou ondersteun skool
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'