Update Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO - As sang en musiek in jou are vloei is enige verskoning goed genoeg om konsert te hou.
"Daar is egter min optreegeleenthede vir amateurs en mens moet dit maar self skep," vertel Deona Aucamp, talentvolle sanger van dié kusdorp, maar ook knap joernalis by Suid-Kaap Forum.
So het die gedagte om 'n huiskonsert aan te bied, ontstaan.
Pauline Hollis sr., wat ook die regisseur van die Passiespel vroeër vanjaar was, het jare se ondervinding met die aanbied van groot en klein geleenthede. Sy het die gedagte in aksie omskep en daar is hard geoefen om 'n konsert in die kleine voor te berei. Sy is bygestaan deur haar dogter, Pauline Hollis jr., 'n bekende musikant in die dorp en bekwame komponis in eie reg.
"Pauline sr. het George van den Berg en Matthys Streicher se talent tydens die Passiespel-oudisies raakgesien en het hulle saam ingespan. Ek en Hanlie Lubbe is al sedert 2004 gereelde sangmaats," verduidelik Aucamp hoe dit gekom het dat die vierstuks saamgespan het.
Die konsert het Maandagaand 30 September aan huis van Pauline sr. voor 'n groepie genooide gaste plaasgevind en het alle verwagtinge oortref.
"Dit was die eerste keer wat ek en George en aan die ander kant Hanlie en Matthys as duetmaats saamsing en die konsert was so half 'n proeflopie om te kyk of dit op groter skaal sal werk," sê Aucamp. Planne om dieselfde geleentheid in die gholfklub of die Oos-kerksaal te doen en dit as fondsinsameling te gebruik, is in die pyplyn. "Ons het nog nie besluit wie die ontvangers van die geld sal wees nie," sluit sy af.
Kyk 'n video hieronder:
Hanlie Lubbe sing 'Danny boy' terwyl Matthys Streicher, Deona Aucamp en George van den Berg hul beurt afwag.
Lees 'n vorige artikel hier: Stilbaai hou konsert in die kleine
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'