RIVERSDAL NUUS - 'n Handjievol EFF-betogers het Maandag 13 Maart 'n vreedsame optog deur Riversdal se strate gehou ter ondersteuning van hul sogenaamde #NationalShutDown.
Die groep het onder die wakende oog van 'n sterk polisieteenwoordigheid gedans en liedere gesing en terselfdertyd geëis dat president Cyril Ramaphosa bedank en beurtkrag gestaak word.
Hulle het ook hul ontevredenheid uitgespreek met die plaaslike ANC en geëis dat korrupsie stopgesit word.
Die plaaslike polisie en verkeersbeamptes het Heidelbergweg in die middedorp gedeeltelik netjies met hul voertuie geblokkeer sodat padverkeer soos normaal deur die dorp kon vloei.
Daar was geen voorvalle van geweld of vandalisme nie en winkeleienaars, wat verkies het om hul deure oop te hou, het die betoging belangstellend dopgehou.
Verskeie inwoners het ook op sypaadjies saamgedrom om die EFF-groepie dop te hou. Baie was verras dat dié betoging wel gerealiseer het omdat die EFF se ondersteuning in Hessequa onbeduidend is.
Die EFF het Maandag landwyd die strate ingevaar in 'n poging om die ekonomie te ontwrig, maar die nasionale nuusmedia het gerapporteer dat dit grootliks onsuksesvol was.
Daar was wel ondernemings gesluit in byvoorbeeld die Pretoriase middestad en ander dele van Gauteng, maar baie sake-eienaars het die Maandag afgevat om langnaweek te hou. Dit was ook 'n skolevakansiedag en dus die ideale geleentheid vir werknemers en -gewers om dié geleentheid te benut.
Die Riversdal Spar se deure was oop en klante het rustig gekom en gegaan en skaars ag geslaan op die EFF-optog. Dit was maar net nog 'n normale besigheidsdag. Dieselfde tendens het hom by besighede in Kerkstraat afgespeel.
Sias Snyman, eienaar van die Medi-Dal-apteek in Dicksonstraat, het aan Suid-Kaap Forum gesê hulle het geensins bedreig gevoel oor die aankomende optog nie en het dit ook nie nodig gevind om die besigheid te sluit nie. "Die polisiebegeleiding was gerusstellend, maar die optoggangers was vreedsaam en rustig."
Lee-Ann Gregory van PostNet, ook in dieselfde straat, sê hulle was rustig en glad nie bekommerd nie alhoewel hulle die deure vir vyf minute gesluit het. "Maar die polisie en buurtwaglede het ons gerusgestel en gesê die optog is vreedsaam. Die EFF het vir so 'n uur hier hul ding gedoen en toe die pad gevat."
Na bewering het die regering miljoene rande opgedok om veiligheidsmagte te versterk en in die groot stede as 'n voorsorgmaatreël te ontplooi. En dis hier waar mens kritiek moet uitspreek. Vir enige politieke party of groepering om egter die reg op vreedsame protes só te misbruik dat dit die land - nee, belastingbetalers - onnodig geld kos, is immoreel en totaal onaanvaarbaar.
Dan praat mense nie eens van kleinsake-ondernemings wat wel hul deure gesluit het uit vrees dat dit geplunder of gevandaliseer kan word en dus van 'n geleentheid ontneem was om 'n broodnodige inkomste te verdien nie.
Dat die EFF, soos ander groot politieke partye, met legitieme griewe soos dienslewering, beurtkrag en grootskeepse korrupsie hul stemme laat hoor het, is heel verstaanbaar.
Die spreekwoordelike bal is nou in die ANC-beheerde regering se baan om ag te slaan op dié griewe en dit daadwerklik aan te spreek en met werkbare oplossings te kom voordat die onverkwiklike situasie weer 'n teelaarde vir anargie skep.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’