RIVERSDAL NUUS - Riversdal Uitvoerende Kunste (RUK), onder leiding van Pam de Goede, is 'n nie-winsgewende organisasie wat in 2016 geregistreer is.
Hierdie organisasie se doel is om hom op die kuns van musiek toe te spits, veral met die klem op die klassieke styl, koraal- asook ander musiek.
Hulle beplan om ook ander kunste soos dans, drama, later aan te bied sodra die musiekafdeling deeglik op die been is en verder na professionele vlak vorder.
Vanaf 2014 is daar baie ingesit om die organisasie op die been te kry. Aanvanklik was daar slegs sowat 15 tot 20 lede.
Oor die jare het hulle uitgebrei en vandag het hulle 'n energieke en toegewyde koor en orkes van byna 80 lede.
Doel van die projek
Die doel is dat die hele Hessequa-gemeenskap hand bysit om te help om jongmense te weerhou van bendegeweld en dwelmmisbruik, en hulle te help met sosiale ontwikkeling, om regte beroepskeuses te maak, goeie waardes soos dissipline, respek, goeie gedragswaarnemings en selfs Godelike waardes aan te leer en toe te pas.
Die musiekprojek behels die bou van 'n gemeenskaplike koor en orkes in die Hessequa-streek.
Die RUK is afhanklik van finansiering en is dankbaar vir Hessequa-munisipaliteit wat ook al met finansiering ondersteun het.
Hulle bedank graag die burgemeester, Grant Riddles en sy ondersteunende span wat gehelp het met finansiering toe die groep na Kaapstad moes toer om deel te neem aan die Suidoosterfees-kompetisie en die Kunstekaap Gala.
Pam de Goede behartig die musiekafdeling en dien ook as organiseerder, sameroeper en afrigter.
Sy het 'n puik ondersteunende groepie onder haar vlerk wat help met die aanbieding van musieklesse waar hul belangstellendes leer om musiekinstrumente te speel.
Hoogtepunte
- 2014 - Koor behaal goud tydens Ratem-eisteddfod
- 2015 - RUK-koor en orkes behaal goud plus tydens Ratem-eisteddfod
- 2016/17 - Eerste suksesvolle Kerskonserte in Riversdal
- 2017 - Tydens die Eden Distrik Korale Musiekfees is die RUK-koor geidentifiseer as die mees gedissiplineerde en beste opvoeringskoor
- 2019 - Blokfluitsolo behaal goud plus
- 2022 - Deelname aan Hessequa Harmonie in samewerking met Suidoosterfees-kompetisie in Heidelberg het hulle in verskeie afdelings goud en goud plus behaal
- 2022 - Koor behaal goud plus tydens Ratem-eisteddfod
- 2023 - RUK gemengde koor, mannekoor en vokale duet neem deel aan die ATKV Suidoosterfees Harmonie-koorkompetisie en gala. Tydens die kompetisie behaal die koor goud plus en stap trots weg met 'n eerste plek as die wenkoor van Artscape, Kaapstad.
Daar wag nog egter 'n paar projekte vanjaar, onder andere die Kerskonserte, deelname aan Hessequa Harmonie in Heidelberg, 'n verskeidenheidskonsert en welbekende Ratem-eisteddfod.
Van die prestige geïdentifiseerde lede hervat binnekort hul musiekteorie klasse ter voorbereiding vir die Unisa-musiekeksamen.
Uitnodiging
Belangstellende gemeenskapslede in die Hessequa-streek wat instrumente kan speel of koorsang doen, is welkom om by RUK aan te sluit.
Alle nuwe lede wat instrumente wil leer speel en inskakel by die groep en program, kan Pam de Goede skakel by 073 305 8170 of epos: riversdalkunste@outlook.com
Die RUK gemengde koor tydens Ratem-eisteddfod 2022, onder leiding van Pam de Goede en Maggie Filmalter as begeleiers.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’