RIVERSDAL NUUS - Matlann-Jo Fielies is Saterdag 27 April begrawe. Rugby, waarvoor hy gelewe het, het ook sy dood gekos.
Die kranige rugbyspeler is op 14 Julie 1992 gebore en het by Progress-straat 7 grootgeword, waar ma Merle en pa Alann ingetrek het toe hulle in 1990 getroud is.
Sy pa, 'n onderwyser, is in 2010 oorlede. "Matlann was baie beskermend teenoor my en sy suster Jennevé. Ons was nog altyd 'n baie hegte gesin," vertel Merle, 'n verpleegster by Droom-tehuis vir bejaardes.
Sportmal
Hy het uitgeblink in sport, eers by Panorama Primêr en later by Gerrit du Plessis Senior Sekondêr. Rugby was sy groot liefde, maar hy was ook 'n sterk swemmer. Na skool het hy by Riversdal Blues aangesluit.
"Hy wou nooit gaan studeer nie – hy was nie 'n boekemens nie, hy was prakties en kon met sy hande werk." En hy was sportmal – as die rugbyseisoen verby was, het hy by 'n sokkerklub gaan 'uithelp'. "Hy het oral respek afgedwing, want hy het almal met respek behandel."
Bedags het hy by SSK gewerk en na werk is hy om die hoek van die huis af Riverville-sportterrein toe.
Sy oom Dave Fielies, Merle se broer, wat self op sy dag vir die Blues en SWD uitgedraf het, was sy grootste rugby-inspirasie. "Van kleins af het Dave hom gemotiveer." Dave is op 9 April na 'n lang siekbed oorlede.
Besering
Matlann-Jo het Saterdag 23 Februarie sy neus tydens 'n rugbywedstryd gebreek. "Hy het gereeld op die rugbyveld seergekry. Hy is dikwels geteiken, want die opposisiespanne het geglo hulle het net 'n kans as 'die dapper muis' van die veld af is…"
Maandagoggend is hy werk toe, maar het huis toe gekom met hoofpyn. Sy suster het hom dokter toe geneem. Teen die aand was sy hele gesig geswel en hy was in geweldige pyn. "Ek het saam met my kind gesit en huil."
Hy is Dinsdag 26 Februarie terug dokter toe, en daardie Donderdag is hy in Riversdal-hospitaal opgeneem, waar hy vyf dae gebly het. Twee dae na hy ontslaan is, is hy terug werk toe. "Hy het gesê hy kan nie so lank weg wees van die werk af nie – hy was baie hardwerkend en pligsgetrou. By die werk het hulle hom 'vuur en vlam' genoem."
Vrydagmiddag 12 April het hy vir sy ma gesê hy is orraait. Omstreeks 03:00 Saterdag 13 April het Camelia Ruiters, ma van twee van sy kinders, Merle wakker gemaak en gesê sy het 'n slag gehoor. Hulle het Matlann-Jo bewusteloos op die vloer in sy slaapkamer gekry. Hy is per ambulans na Riversdal-hospitaal geneem, van waar hy na George-hospitaal oorgeplaas en 'n breinskandering gedoen is. "Ek was alleen by hom toe die dokter vir my sê hy is breindood. Ek het so gehuil en gepleit by die dokter en by die Here dat my kind nog 'n kans in sy lewe moet kry. Maar hy het nie meer op sy eie asem gehaal nie en sy organe is kunsmatig aan die lewe gehou."
'n Span dokters het Sondagoggend 14 April van Lanseria af gevlieg om sy organe te kom verwyder.
"Hy het feitlik sy hele liggaam geskenk en so ten minste vier mense se lewens gered. Terwyl ek nog by die hospitaal was, het een van hulle laat weet 'n 11-jarige kind, wat agt jaar lank op dialise was, het een van sy niere gekry."
Die masjiene wat sy liggaam lewend gehou het, is om 19:37 afgeskakel.
Later het die oorplantingspan laat weet die ander nier, sy lewer en longe is onderskeidelik suksesvol in twee vroue en 'n man oorgeplant.
'n Gedenkdiens is Donderdag 25 April om 19:00 in die Riverville-stadion gehou. Sy begrafnisdiens is Saterdag 27 April om 09:00 vanuit Progress-straat 7 en om 10:00 vanuit St. Andrews-kerk in Van Riebeeckstraat gehou. Sy as is in sy pa se graf geplaas.
• Bernard Fielies, neef van Matlann-Jo se pa Alan, het 'n pragtige gedig oor hom geskryf en is op ons brieweblad, bladsy 10.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'