Update
SLANGRIVIER NUUS - 'n Bekende jong sportman van die dorp het Maandagmiddag 27 Mei tragies aan sy einde gekom toe hy doodgeskok is.
Aldo Esau (28), 'n werker van Sentraal-Suid Koöperasie (SSK) het op 'n plaas, 25 km buite Swellendam, rigting Malgas gesterf terwyl hy glo besig was om voerpille af te laai.
Volgens van sy kollegas het die voerpyp wat aan die vragmotor gekoppel is, aan 'n oorhoofse Eskom kragdraad geraak en sodoende het dit blykbaar Esau se dood veroorsaak.
'n Erg geskokte Francois Kistoor vertel dat hulle net klaar met middagete was toe die ongelukkige voorval op die plaas, Solderkraal, gebeur het.
Sy ma, Cathy Esau, wat op die toneel was nadat sy oor die voorval ingelig is, het hartseer gesê dat sy nie God se werke betwyfel nie, maar dat dit 'n groot skok vir haar en haar gesin is.
"Hy was 'n staatmaker, grapjas en sommer net my engelkind. Ons gaan hom baie mis."
Esau was oral in sy gemeenskap as 'n vriendelike jongman geken, wat ook op sportgebied presteer het. Hy was een van die plaaslike rugbyklub, Arrows, se groot uitblinkers en staatmakers. Hy was ook die huidige kaptein van die eerste span.
Op Suid-Kaap Forum se navraag het SSK se senior bestuurder: menslike hulpronne, Alwyn Burger gesê dit blyk of die voorval op die oog af 'n fratsongeluk te wees.
Dit is by die owerhede aangemeld en hulle wag tot die ondersoeke afgehandel is.
"Ons betreur die tragiese verlies van 'n jong, hardwerkende en talentvolle kollega, Aldo Esau, werksaam by SSK se veevoer vervaardigingsaanleg te Karringmelksrivier. Ons gedagtes en diepste simpatie gaan uit na sy familie en vriende, insluitend die kollegas en kliënte saam met wie Aldo die afgelope vier jaar hier by SSK gewerk het," het Burger bygevoeg.
Buiten sy ma laat Esau sy pa, Joseph Esau, sy sesjarige dogter, Aldonay Scholtz, asook twee susters en 'n broer agter. Begrafnisreëlings is nog nie bekend nie.
Na bewering het dié pyp aan die kragdraad geraak. Foto’s verskaf
Lees 'n vorige artikel hier: Bekende rugbyspeler doodgeskok
'Ons bring jou die nuutste Slangrivier, Hessequa nuus'