HEIDELBERG NUUS - Heidelberg het die afgelope naweek finaal van twee geliefde inwoners afskeid geneem.
By albei begrafnisdienste vanaf die huise van die oorledenes is streng by die Covid-19 regulasies gehou waar net 50 roubeklaers in en op die perseel toegelaat is.
'n Horde ander inwoners het egter, nieteenstaande die sosiale spasiëring, hul laaste eer in die strate aan die oorledenes betuig.
Samuel Hendricks (77), eggenoot van dié dorp se immergroen ant Kandas, is Vrydagoggend, 14 Augustus ter ruste gelê na hy Maandagoggend, 10 Augustus in Riversdal-hospitaal gesterf het. Oom Sem, soos hy bekend was, het sy stryd teen diabetes verloor.
Die begrafnisgangers is deur leraar Charles Damons uit Lukas 16 vanaf vers 19 bemoedig. Leraar Nicholas Hendricks, seun van die oorledene, was die diensleier. Pastoor Martin Meyer het die teraardebestelling behartig. Samuel Hendricks junior en oudste seun het hulde aan sy ontslape pa gebring. Verskeie lede van Eden-radiostasie, onder wie Morné Pietersen (stasiebestuurder), pastore Leon Prinsloo en John Plaatjies het die verrigtinge bygewoon.
Familielede neem afskeid van hul geliefde pa en oupa.
Oom Sem, 'n passievolle tuinier na sy aftrede by Spoornet waar hy vir 33 jaar werksaam was, was vir 55 jaar in die eg verbind. Buiten sy vrou laat hy vier seuns, twee dogters, 21 kleinkinders en 18 agterkleinkinders agter.
Saterdagoggend, 15 Augustus is Samanthea Vryman (35), administrasieklerk by Heidelberg-polisie wat Sondag, 9 Augustus oorlede is, ter ruste gelê. Die diens wat in ongure weer plaasgevind het, is goed deur baie roubeklaers, waaronder kollegas, familielede en plaaslike inwoners bygewoon. Die familie is uit Job 2 vers 10 deur dominee Abe Jeftha bemoedig. Verskeie huldeblyke is deur onder kapt Mervyn Zana, Janine Appollis, asook Joseph en Thabo Vryman gebring.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'