RIVERSDAL NUUS - Groetmekaar is 'n instelling wat oor die jare gevestig en gewild geraak het, 'n instelling van Riversdal-landbougenootskap omdat hulle voel dat dit die regte ding is om te doen.
Dis lekker om 'n skou op so 'n manier te begin waar almal informeel saam iets kan eet, drink en gesellig saam kan verkeer. Dít was die verwelkomingswoorde van Tielman Roos, namens die skoukomitee, aan die eregaste Woensdagaand by die skouterrein.
Hy het almal bedank vir hul bydrae en ondersteuning.
Riversdal se 154ste landbouskou het Woensdag 15 Februarie amptelik geopen en duur tot Saterdag.
Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri Expo, het aan die gaste vertel dat hulle vier fokusarea's geïdentifiseer het wat hulle graag wil doen. Die eerste, sê hy, is jeugontwikkeling,
"Die landbouskole en jeugskoue is vir ons belangrik, veral in die Wes-Kaap. Vandaar ons noue betrokkenheid daarby en natuurlik ook enige ander jeugprojekte wat moontlik na ons kant toe kan kom."
Milford sê die wynbedryf lê Agri Expo ook na aan die hart omdat die Jongwynskou die eerste wynskou in Suid-Afrika was - en dit is bes moontlik ook die oudste in die wêreld - wat deur Agri Expo begin is en hulle wil dit graag uitbou.
Die Suid-Afrikaanse suiwelkampioen-skappe is ook 'n fokuspunt waar hulle graag hul voetspoor wil versterk. "Ons kry jaarliks by die 1 000 inskrywings vanoor die land vir die kampioenskappe."
Maar, sê Milford, die belangrikste bly landbouskoue. "In 1996 was daar 30 landbouskoue wat onder Agri Expo geressorteer het. Vandag is daar net 16 oor, amper die helfte minder. Ons sal hard werk om hulle sterker te maak.
Anton Swart, visepresident van die Riversdal-landbouskou, het uitgebrei oor wat Pieter van Wyk, skoupresident, die afgelope vier jaar vermag het met, onder andere, onderhoud van die terrein en geboue, uitbreidings, herstellings, verskuiwings, opgraderings en aanbouings.
Verskeie skoulegendes soos Manie Fourie, 'n bekende en suksesvolle merinoboer van Riversdal, en Kokkies Rademan, 'n boervrou van Riversdal uit die Vlakte en 'n gedugte saalperdruiter, het die gaste met staaltjies uit vervloë dae vermaak.
Van Wyk was laaste aan die woord en het die skoukomitee bedank vir hul entoesiasme en dinamiese werk regdeur die jaar en ook elkeen aan die gehoor voorgestel. Hy het ook elke borg, donateur en die mediavennote bedank.
"Elke ondersteuner is belangrik. Sonder julle kan ons nie skou en die pragtige terrein en geboue onderhou nie. Alle borge, donateurs en ondersteuners het 'n aandeel in die sukses van Riversdal-skou. Kom geniet Riversdal se 154ste landbouskou saam met ons, daar is iets vir een en elk om te beleef."
(Sien die volledige program op bl. 9 - 12 van vandag se Suid-Kaap Forum-koerant)
HOOF-FOTO: 'n Panoramiese uitsig oor die skouterrein waar die 154ste landbouskou in Riversdal Woensdag geopen het en tot Saterdag duur. Die foto is geneem vanuit die groot Ferriswiel by die pretpark danksy die vriendelike vergunning van Fun 4 u van Jeffreysbaai, eienaars van die pretpark wat gedurende die skou tot saans om 10:00 vir pretritte oop sal wees.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'