RIVERSDAL NUUS - Toe ek instap by die lokaal en kyk na die gebak van al die deelnemers, kon ek met die eerste oogopslag sien sy gaan wen. Ek het nie die minste daaroor getwyfel nie."
Só vertel Katinka Fox, 'n opvoeder in verbruikerstudies by Hoërskool Langenhoven, oor die pragprestasie van een van haar leerders by 'n nasionale kompetisie vir jong sjefs in Kaapstad.
Die 17-jarige Isabel Coetzee het al die ander deelnemers in die Young Chef-kompetisie, wat by die International Hotel School in Soutrivier aangebied is, in die afdeling vir brood en fyngebak uitgebak.
Sy moes, onder andere, met bestanddele soos gis, meel, botter, broskorsdeeg uie, vye en suiker woeker om die weninskrywing vir die beoordelaars op te dis.
Bekende glanssjefs het die beoordeling gedoen. Sy het hiermee 'n beurs losgeslaan om in 2024 by die hotelskool, wat internasionaal hoog aangeskryf word, vir 'n jaar lank opgelei te word.
Haar beurs dek die deposito vir dié kursus wat nogal 'n aardige bedrag beloop.
Isabel het in 'n onderhoud met Suid-Kaap Forum vertel baie mense het haar op die wenpad ondersteun.
"Dit het begin met juffrou Katinka wat my oor die kompetisie ingelig het en van meet af aan in my vermoëns geglo het. Op die dag van die beoordeling, byvoorbeeld, het een van die hotelskool se senior studente sy messe vir my geleen omdat daar nie ekstra messe beskikbaar was. Daarsonder sou ek rêrig gesukkel het."
Maar, beklemtoon sy, "Haar geloof in die Here het haar in die stresvolle situasie kalm gemaak. Ek het besef daar is nie veel anders wat ek nou kan doen nie en het my volledig aan Hom oorgegee. Hy bepaal my toekoms en ek kon net op Hom staatmaak om my deur die spanningsvolle drie ure te dra.
Verder moes ek terugval op my kookver-moë, wat gelukkig mooi saamgespeel het."
Isabel vertel haar liefde vir kosmaak kom al van kleintyd af. "My pa, Hans, en my tannie Este Liebenberg, was my groot invloed en inspirasie. Hulle het die basiese beginsels van kook in my vasgelê, maar dis veral my tannie wat my leer bak het. My pa het my altyd aangemoedig om te eksperimenteer en my eie kop te volg sonder om te veel ag te slaan op voorgeskrewe resepte."
Isabel sê om te bak is steeds haar gunsteling ding om te doen. "Met 'n kokery kan jy jouself uitdruk en hoef jy nie juis te hou by die reëls nie. Maar met 'n bakkery kan soveel goed verkeerd gaan en dit bly altyd 'n uitdaging."
Nou ja, staan opsy Great British Bake Off, een van Isabel se gunstelingprogramme, Riversdal se eie glanssjef is binnekort op pad.
En só lyk haar weninskrywing waarmee Isabel Coetzee, 'n leerder van Hoërskool Langenhoven, die afdeling vir brood en fyngebak by die Young Chef-kompetisie in Kaapstad gewen het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’