RIVERSDAL NUUS - Riversdal-rugby se eerste span het verlede Saterdagmiddag teen ProStars van George op die veld gedraf met die wete dat hulle minstens 'n bonuspunt moes aanteken om na die uitspeelrondes deur te dring.
Onnodig om te sê dat niks hulle beter kon motiveer in dié maak-of-breek-wedstryd om met 'n grootse spanpoging vorendag te kom nie.
En dit het die Riversdallers gedoen met veral 'n verwoede aanslag in die tweede helfte om die besoekers met 33 - 12 om te klink. En 'n bonuspunt in die sak.
Riversdal lê nou gelyk saam met Bitou in die derde plek hoewel Bitou spog met 'n beter punteverskil. Van Wyksdorp gee nog die pas aan in die Eersteliga B (Wes).
Met Riversdal se ligaverpligtinge nou afgehandel, sal hy geduldig moet wag dat die ander spanne hul laaste wedstryde voltooi om te bepaal wie die topspanne is wat gaan deurdring.
Spel het in die eerste helfte gesukkel om te vloei met die reënweer wat balhantering en aanvallende hardlooprugby effe gekortwiek het.
Jean Horne laat 'n verdediger in die stof byt. Foto's: Hugo Redelinghuys
Jacques Damons (skrumskakel) se stelskopwerk pale toe was eksieperfeksie.
Teen rustyd was albei spanne nog goed geplaas om te wen, maar Marvin Kortjé, hoofafrigter van Riversdal, het sy spelers opdrag gegee om meer klinies te wees, nie oorhaastig te wees nie en die bal deur fases te neem en dan met tweede fase besit die bal oor die veld te skuif.
Dit het die gewenste uitwerking gehad en die tuisspan het stadigaan beheer geneem en skerper op die aanval vertoon. Riversdal se agttal het ProStars in die skrum verwoes.
Veral sy agtsteman, Reagan Paulsen, was iets ysliks met die bal in die hand. Met sy kraglopies het dit soms tot drie, vier verdedigers gekos om hom plat te trek.
Duncan Saayman (skrumskakel) het ook uitgeblink en leiding geneem met die spel tussen die voor- en agterspelers.
En toe het die drieë gevolg en kon Riversdal sy bonuspunt inpalm.
Dumisa Charlie (met bal), kaptein van Riversdal, het self ProStars se verdedigers druk besig gehou.
Duncan Saayman (skrumskakel) sny deur ProStars se verdedigers. Hy was die seisoen een van Riversdal se groot uitblinkers.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’