RIVERSDAL NUUS - Riversdal-hospitaal is een van Hessequa se bekendste bakens. Dié geskiedkundige hospitaal was op 10 Maart 100 jaar oud.
Die geskiedenis rondom die hospitaal en ontstaan daarvan het nie oornag gebeur nie. Uithou en aanhou was die wagwoord veral omdat daar in daardie jare 'n groot behoefte was.
Die burgemeester van 1907, D Versfeld het die munisipaliteit versoek om 'n stuk grond te skenk vir die oprigting van die destydse Cottage Hospital.
Eers in 1914 is die grond geskenk met die jare lange beywering van die lid van die provinsiale raad, J F van Wyk wat staatsgeld daarvoor bewillig het, waarna is die hospitaal uiteindelik goedgekeur is.
Die argitek van die department van openbare werke, P Eagle beplan 'n hospitaal met 10 beddens, maar ongelukkig breek die Eerste Wêreldoorlog uit en word dit vir eers opsy geskuif voor dit die tenderstadium bereik.
Die bou van hierdie hospitaal word in 1922 hervat en op 10 Maart 1923 word dit amptelik deur die administrateur, sir Frederick de Waal geopen. Dieselfde tyd is 'n hospitaalraad met ds. Truter as voorsitter gekies om die normale funksionering van die hospitaal te administreer. Die tenderprys vir die Riversdale Cottage Hospital was daardie tyd £6000 (R12 000) maar dit is vir £500
(R1 000) minder gebou. Dié bedrag word aan die hospitaalraad geskenk vir die aanbou van 'n ekstra vertrek. Die hospitaalraad sukkel om kop bo water te hou, maar onder leiding van dr. Van Zyl is die hospitaal in 1923 vergroot.
Die tender van G T Elliott van Wynberg word in 1932 vir die aanbou van twee sale en twee slaapkamers vir verpleegsters aanvaar. Dr. Van Zyl bestel 'n nuwe moderne operasietafel, geborg met fondse van mnr. T G la Grange. In 1931 is daar reeds 127 operasies uitgevoer waarvan 74 noodoperasies was.
Op 13 Augustus 1932 berig die plaaslike koerant dat daar reeds agt beddens deur dr. Van Zyl, dr. Trichard en ds. J H Hugo geskenk is, wat die totaal bring op 18 beddens. Die Lewis Broers van Mosselbaai het in Januarie 1933 'n warmwatersisteem in die hospitaal geïnstalleer en die ou onvanpaste stoomketel en silinder verwyder.
Na jare se deursettingsvermoë van die hospitaalraad, slaag hulle daarin om in 1937 die bedrag van R5 800 op die werkskedule van 1938 te kry vir aanbouings.
Mnr. F H Brownlee van Kaapstad beplan die toevoegings, wat daardie tyd twee sale vir gekleurdes en aanbouings vir blankes behels. Die hospitaal het daarna 21 blanke beddens en 14 beddens vir gekleurdes. Hierdie uitbreidings word in 1939 voltooi.
'n Pragtige moderne kraamafdeling was nog 'n nuwe toevoeging tot die hospitaal in 1952 na groot ywer deur dr. Van Zyl. Na vier en 'n halwe jaar van beplanning word die kraamafdeling met 14 beddens uiteindelik op 24 September 1952 geopen teen 'n koste van £32 000 (R64 000).
Die opening is waargeneem deur die administrateur, P J Olivier. Hierdie ou deel van die hospitaal is later ook as kliniek gebruik.
Die Vrouehospitaalvereniging voorsien in 1955 die fondse vir 'n nuwe teater met toebehore. Daar is besluit dat die nuwe operasiesaal die Barbara van der Vyver-teater genoem sal word. Sy was toe reeds vyftien jaar president van die Vrouehospitaalvereniging. Op 23 September 1955 doen dr. Le Roux die eerste noodoperasie in die teater.
Die ou teater word nou as X-straalkamer ingerig en met nuwe apparaat toegerus. Die tafel en toerusting van die teater is deur B C Brönn en sy seuns geskenk.
In 1967 word berig dat daar reeds eiendomme op die terrein aangrensend aan die hospitaal aangekoop is vir uitbreiding. Die hospitaal met sy 56 beddens raak al meer beknop en uiteindelik is 'n nuwe hospitaal beplan. Planne is opgestel deur die argitekfirma Willis, Willis & Jenkins en 'n tender vir die bedrag van R750 000 is toegeken aan die firma Phillipson & McLoughlin van Mosselbaai.
Op 24 September 1971 word die nuwe hospitaal geopen deur dr. Lapa Munnik toe LUK (hospitaaldienste).
Die hospitaal is voltooi teen 'n koste van R1 150 000 en beskik oor moderne geriewe, met 39 beddens, twee nuwe teaters en 'n X-straal departement.
Uittreksel uit Riversdal en sy mense – Vol.2 – 2008 met dank aan die skrywer, Emsie Martin.
Indien jy hou van blokraaisels met geskiedenis, kan jy gerus hierdie een invul oor vrae uit die geskiedenis van Riversdal Hospitaal opgestel deur Louise du Plessis van die Julius Gordon Africana Sentrum / Versfeld-huis.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'