Update
RIVERSDAL NUUS - Beweringe van inmengery by die Melkhoutfontein-behuisingsprojek deur Hessequa-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, Grant Riddles, gaan nie verder ondersoek word nie.
Die veelpartykomitee, bestaande uit die ANC, die DA en VF Plus, wat die tugondersoek na Riddles gelei het, het aanbeveel dat dié beweringe nie verder ondersoek kan word nie weens die onwilligheid van die klaers om wel te kom getuig.
Die DA het die voorstel ingedien dat die ondersoek gestaak word en dis deur die ANC gesekondeer.
Die klaers is die Abrahams-gesin van Melkhoutfontein. Hulle is glo verskeie kere die geleentheid gebied om met die aanklaer te ontmoet sodat 'n klagstaat vir die tugverhoor saamgestel kon word, maar het kat-en-muis-gespeel met die aanklaer.
Ná 'n paar dae het hulle die aanklaer ingelig dat hulle verkies om nie te getuig nie.
Nog 'n inwoner wat betrokke is by die sage en wat 'n klag by die plaaslike polisie teen Riddles gaan lê het, Adwin Saayman, is ook geleentheid gebied, maar hy het glo verskonings aangevoer oor waarom hy nie kon opdaag nie.
Intussen gons dit op sosiale media oor die uitslag van die tugverhoor en het 'n inwoner van Heidelberg, Alexander Panzek, in 'n opebrief, wat hy ook aan Suid-Kaap Forum gestuur het vir publikasie, teen die besluit uitgevaar om die ondersoek te staak en geskryf hulle stem beslis nie saam nie (sien die verkorte brief op bl. 2).
Panzek skryf daar is 'n dossier met getuienis, wat stemopnames insluit, waarin Riddles aan huisbegunstigdes dit duidelik hoorbaar voorstel dat hulle "moet lieg oor hul inkomste sodat hulle vir 'n behuisingsubsidie kan kwalifiseer." Panzek vra ook in die brief, wat deur bykans 60 inwoners, onder andere die ANC se Chris Taute onderteken is, dat hy die eerbare ding moet doen en bedank.
Panzek noem ook spesifiek dat die Abrahams-gesin, of enigiemand anders, onder geen verpligting is om voor enige munisipale dissiplinêre tugverhore te verskyn nie. "Hulle is egter verplig om die hofsaak by te woon."
Die speaker, Andrew Stroebel, sê die hele proses was van meet af aan korrek gevolg "Niemand kan die proses bevraagteken nie. Die hele sage is in Mei aan die stadsraad voorgelê nadat ek 'n voorlopige ondersoek afgehandel het. Die raad het op sy beurt besluit die kwessie moet ingevolge die gedragskode vir raadslede na die tug komitee vir verdere ondersoek verwys word."
Die munisipale bestuurder, Albert de Klerk, het 'n aanklaer, Martin Kruger van die firma Kruger & Blignaut Prokureurs, aangestel om 'n klagstaat teen die aangeklaagde, Riddles, op te stel.
Die regsfirma het, onder andere, onderhoude met beide Stroebel en Chris Onrust, direkteur van behuising, gevoer wat normale praktyk is voordat 'n klagstaat opgestel kan word.
Enige party betrokke by die aangeleentheid wat ontevrede is met enige raad se besluit, is dit hul goeie reg om hulle tot die hooggeregshof te wend by wyse van 'n hersieningsaansoek.
Die uitkoms van die interne proses het op Woensdag 26 Julie 2023 voor die raad gedien (sien raadsbesluit in blokkie op bladsy 3).
Hiervandaan het die speaker die minister van plaaslike regering, Anton Bredell, wat dien as die appèlliggaam vir die aangeklaagde persoon indien hy/sy moontlik wil appelleer teen die raad se proses, in kennis gestel van die raad se finale besluit.
Resolution / Besluit
1. Dat die Raad kennis neem van die beweerde oortreding van die Gedragskode vir Raadslede, soos per Bylae 7 van die Gedragskode vir Raadslede ingevolge die Munisipale Strukture Wet, 117 van 1998 (Wysigingswet, Wet 3 van 2021), deur Raadslid Grant Riddles.
2. Dat die Raad kennis neem van die Verslag van die Inisieerder, Mnr Martin Kruger van die Firma Kruger & Blignaut Prokureurs dateer 6 Julie 2023 .
3. Dat die Raad die Verslag van die Inisieerder, Mnr Martin Kruger van die Firma Kruger & Blignaut Prokureurs dateer 6 Julie 2023, oorweeg ingevolge Item 16(1) van Bylae 7 van die Gedragskode vir Raadslede Ingevolge die Munisipale Struksture Wet, 117 van 1998 (Wysigings, Wet 3 van 2021).
4. Dat die Raad die aanbevelings soos gemaak deur die Dissiplinere Komitee op 17 Julie 2023, aanvaar.
5. Dat die bewerings teen Raadslid Grant Riddles nie verder ondersoek en bevorder kan word nie vanweë die onwilligheid van getuies, Mnr en Mev Abrahams om te getuig.
6. Dat die uitslag van die ondersoek skriftelik aan die Provinsiale Minister verantwoordelik vir Plaaslike Regering gerapporteer word deur die Kantoor van die Speaker ingevolge Item 16(3), Bylae 7 van die Gedragskode vir Raadslede ingevolge die Munisipale Strukture Wet, 117 van 1998 (Wysigingswet , Wet 3 van 2021.)
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’