STILBAAI NUUS - Die gewildheid van die galjoenderby blyk geen perke te hê nie. 'n Nuwe jaarlikse inskrywingsrekord is vanjaar opgestel deur 71 sesman-spanne ingeskryf te kry, met hengelaars wat van so ver as Gauteng kom deelneem het.
Hierdie jaar se Stilbaai Agio Baits-galjoenderby se 26ste aanbieding is Saterdag 5 Augustus vanaf die Stilbaai-wesoewer tot by Heuningneststrand te Jongensfontein gehou.
Die weer- en getytoestande was ongelukkig nie baie gunstig vir. Enersyds het die ysige koue weer, meegebring deur wisselende vooraf suide/suidwestelike winde en 'n bietjie reën op die dag, die hengelaars se entoesiasme van meet af aan beproef. Andersyds was die watertoestande ook lelik omgekarring deur die wisselende windpatrone, wat groot opwellinge en sterk onderstrominge veroorsaak het, wat die vis blykbaar na dieper waters laat wyk het om nie so rondgesleur te word nie.
Ondanks hierdie faktore het sporadiese vangste 'n totaal van 104 galjoen (totale vangsmassa van 101,9737 kg) opgelewer wat direk na mate-opname weer vrygelaat is. Ongelukkig is 'n verdere galjoen sodanig beseer dat dit nie teruggeplaas kon word nie.
Geen ander visspesies se vangste is in aanmerking geneem nie en soos met die galjoen, moes alle vangste lewendig teruggeplaas word.
Met Vrouedag wat gister gevier is, het twee dames gewys hulle hoef vir geen man terug te staan nie. Annelise van Lill van die Guppies-span se galjoen van 49,1 cm het aan haar die tweede plek besorg en die jonge Celena van Zyl van Laerskool Bertie Barnard het 'n algehele negende plek met haar galjoen van 46,8 cm verower.
Die kompetisie is die aand met die prysuitdelingsfunksie afgesluit wat tradisioneel in die gemeenskapsaal gehou is.
Xander de Beer, voorsitter van Stilbaai-hengelklub het op hul Facebook-blad gesê dat hierdie die grootste derby tot dusver was, met meer as R130 000 in pryse. "All of this would've been possible without our awesome sponsors, a special thanks to all of you. Thanks to all the committee members, it is a honour to be part of such an amazing team."
Die omstandighede was moeilik – hier was die branders nogal groot! Foto's: Elza Thiart-Botes.
Hoof toekennings
Top spanposisies: 1. Die Galjappers; 2. Kinky Goblins; 3. Anysberg Biltong. Swaarste vangssak massa - 1. Charl Olivier (Bettiesbaai span - 2.9917 kg); 2. Floris Marais (Galjappers span - 2.9782 kg); 3. Andries Coetzee (Bettiesbaai span - 2,0628 kg).
Swaarste galjoentoekennings: 1. Chris van Zyl (Galjappers span, 51 cm totale lengte - 2,531 kg); 2. Anneliese van Lil (Guppies span, 49.1 cm - totale lengte 2,248 kg); 3. E Tenggren (Swellendam Super Six span, 49 cm - totale lengte 2,234 kg).
Hengelaars het reeds vanaf 07:00 hul lyne in die water gehad.
Spesiale toekennings:Spesiale toekennings is ook gemaak aan twee hengelaars, André Manning en Coenie Jones, wie met hierdie toernooi aan elkeen van die 26 galjoenderby's deelgeneem het. Hierdie toernooi was weereens 'n suksesverhaal vir die Stilbaai-hengelklub se lede, met die vrouens wie ook vermelding moet kry vir die lekker kos wat aan die 550 gaste aangebied is met die prysuitdelingsfunksie.
Klik hier vir 'n vorige artikel: Galjoen derby behaal rekord inskrywings
ARTIKEL: ELIZE BLOM, SUID-KAAP FORUM JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'