STILBAAI NUUSFLITS - Die gewildheid van die Galjoen Derby blyk geen perke te hê nie. ‘n Nuwe jaarlikse toernooi-inskrywingsrekord is vanjaar opgestel deur 71 sesman spanne ingeskryf te kry, met hengelaars wie van so ver as Gauteng kom deelneem het.
Hierdie jaar se Stilbaai Agio Baits Galjoen Derby se 26ste aanbieding is Saterdag 5 Augustus vanaf die Stilbaai wesoewer tot by Heuningneststrand te Jongensfontein gehou. Die weers- en getytoestande was ongelukkig nie baie gunstig vir die hengelaars nie.
Ten spyte daarvan het sporadiese vangste ‘n totaal van 104 galjoen (totale vangsmassa van 101,9737 kg) opgelewer wat direk na mate-opname weer vrygelaat is. Geen ander visspesies se vangste is in aanmerking geneem nie en soos met die galjoen, moes alle vangste lewendig teruggeplaas word. Die kompetisie is die aand met die prysuitdelingsfunksie afgesluit wat tradisioneel in die gemeenskapsaal gehou is.
Volledige berig en uitslae in Donderdag se Suid-Kaap Forum, asook aanlyn.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'