Update
RIVERSDAL NUUS - "Ongelukkig faal die regstelsel die gemeenskap," sê Sandra Lotz van CARS (Community Animal Rescue Society) oor die voorval waar die vierjarige Jack Russel-reun, Max Hendricks na bewering met 'n windbuks geskiet is.
Max se eienaars, Ruduan en Erené Hendricks het klag by die polisie gelê, maar die saak is vinnig afgehandel en gesluit weens gebrek aan voldoende bewyse, ten spyte van veeartsverslag wat Max se beserings aan windbukskoeël toeskryf.
Max se eienaars het weer by die polisie aangedring om die saak verder te ondersoek, maar hulle wag steeds op terugvoering oor die vordering van die saak.
Sandra wys ook die geval van 'n hond uit wat se nek amper afgesny is weens die draad waarmee sy eienaar hom vasgemaak het. "Ondanks 'n veeartsverslag en stawende foto's van die besering het die staatsaanklaer bevind daar is nie genoegsame bewyse om 'n saak van dieremishandeling teen die beskuldigde te bewys nie."
Sandra meen dit dui bloot op iemand wat geen meevoeling met 'n dier het nie.
"Ek het die saak wel verder laat ondersoek en ek wag nou al twee maande lank vir terugvoering."
Sy voel die verdagte wat Max na bewering geskiet het, behoort vervolg te word.
"Ek dink regtig ons as gemeenskap draai te maklik die blinde oog vir dinge wat bietjie moeite verg. Ons moet standpunt inneem en daarop aandring dat reg geskied. Die polisie praat gereeld van 'n tekort aan bemanning, maar dit is nie 'n aanvaarbare verskoning nie. Wat sou gebeur as daardie persoon met sy windbuks na 'n dier mik, maar 'n kind loop voor die koeël in - en die kind verloor sy of haar oog? Gaan dieselfde houding hier van toepassing wees?"
• 'n Navraag oor Max se saak is op Maandag, 1 Maart aan Riversdal-polisie gerig, maar geen kommentaar is tot dusver ontvang nie.
Vorige artikel: Diere ook geregtig op geregtigheid
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'