Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Mense wat in die omgewing van die Ou Meule-tehuis, tussen Lang- en Kerkstrate, woon se diere is dalk nie veilig nie, want na bewering is daar 'n persoon wat met 'n windbuks behep is.
Max, 'n vierjarige Jack Russell-reun was onlangs sy teiken.
Max se eienaars is die Hendricks-gesin, Ruduan, Erené en hul kinders, Kaylah (11) en Kaiden (7), wat in D'urbanstraat woon. Hul erf strek tot by Van Riebeeckstaat, waar die voorval blykbaar plaasgevind het.
"Ek het die middag met my fiets gery en Max het saamgehardloop. Ek het my fiets kom bêre en terwyl ek met Mamma en Pappa praat, hoor ons Max se getjank buite. Hy het ingehardloop, met een agterpoot in die lug. Dit het gelyk of sy been seergekry het. Ek het hom opgetel en eers toe ek hom buitentoe geneem het, het ek agtergekom iets is nie reg nie. Daar was bloed aan my hande en toe ek hom op sy rug draai, sien ek hy bloei," vertel Kaylah.
Erené sê hulle was almal geskok.
"Toe Kaylah hom inbring, sien ek die koeëlronde gaatjie en ek sê vir my man dat ek dink dit is 'n windbuksskoot. Ek het uitgehardloop om te kyk of iemand sien, maar niks. Ek is vinnig terug huis toe en het dadelik die veearts gebel. Ruduan het Max daar gaan aflaai. Dit was 16 Februarie toe dit heeldag beurtkrag was en die veearts kon nie X-strale neem nie. Die dokter stel toe voor ons neem hom terug huis toe en hou hom goed deur die nag dop en bring hom die volgende oggend terug."
Kyk 'n video hieronder:
Die veearts het die volgende dag bevestig dat Max geskiet is. Die koeël sit in sy hart vas en veroorsaak 'n gesuis in die regterhartkamer. Die risiko is egter té groot om hom te opereer.
Erené het 'n klag by die polisie gelê. Die saak is vlugtig ondersoek en sy is in kennis gestel dat dit afgehandel en gesluit is.
"Ons het nie konkrete bewyse nie. Verskeie bure het egter al gehoor hoe iemand na die katte skiet wat op die dak lê en heelparty koeëls is al opgetel. Ons het verlede week ook op 'n dooie duif afgekom.
"Op 27 Februarie het ek weer by die speurders gepleit om ondersoek in te stel. Ek het gesien hulle het die verdagte persoon kom ondervra, maar ek kry geen terugvoering nie. My hart is so seer. Ek voel so moedeloos en ek weet nie meer watter kant toe nie. Max is my dierekind."
Erené is baie ongelukkig dat mense sulke goed aan onskuldige diere doen. "Hier is duidelik iemand in die buurt wat diere teiken. Nog erger, my kinders ry op hul fietse in die strate voor en agter ons erf rond. Hulle kan deur 'n koeël getref word. Dit gaan alles oor respek vir mens én dier."
Die koeëltjie kan hier duidelik gesien word.
Hierdie duif is ook dood met ? windbukskoeël in die buurt opgetel.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'