Gallery
RIVERSDAL NUUS – Donder en blitse het Riversdal se 155ste landbouskou gister, 16 Februarie, 'n rukkie onderbreek.
“Die weerlig was swaar en het dier en mens in die arena bedreig. Ter wille van almal se veiligheid het ons die verrigtinge vyftien minute gestaak, waarna ons met die program kon voortgaan,” sê Pieter van Wyk, wat vanjaar die sesde keer die skoupresident is.
“Ons is al aan gewoond aan die reën tydens skoutyd. Dit is elke jaar dié tyd ‘n seën van Bo. Met die skou se verbeterde infrastruktuur is dit ook moontlik om die meeste van die aktiwiteite onder dak en in beskutting aan te bied.”
FOTOGALERY: Riversdal landbouskou geseën met reën
Vandag, 17 Februarie is propvol verrassings – van kompetisies waar skaapskeerders en wolhanteerders met hul vaardighede spog – tot die uitpen van pluimvee en graderings van boerbokke en Kalahari Rooies.
Ná middagete - met braaigeregte in die Geldenhuyslokaal en gekookte boerekos by die Plaasmark - verskuif die fokus na die arena waar kampioenperde in verskeie dissiplines gaan pronk.
Die sanger Chris Steyn, die wenner van die derde Kontrak-realiteitsreeks, tree seweuur vanaand in die FNB-lokaal op.
Die skou word môre, 18 Februarie deur ds Wollie Grobler afgesluit met ‘n spesiale erediens in die hoof-arena, met die tema fluit-fluit.
Vanjaar se platinumborge is Agri-Expo, BKB en FNB. Die diamantborge is Hessequa-munisipaliteit, JC Slagtery, Sentraal-Suid-koöperasie, Spitskopsteenwerke en SuperSpar.
Mallemeule-rondomtaliepret op die groot wiel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’