Update
STILBAAI NUUS - Die Take Hands-projek is in dié kusdorp in die lewe geroep toe Lardus Potgieter, Corlea Louw en Alta Kleinhans, vriende van Alta Hands wat met kanker gediagnoseer is, in sekere behoeftes wou ondersteun.
Hands het nie 'n voertuig gehad nie en moes steeds besoeke aan die dokters bring, wat haar vriende daarna laat kyk het om die 'Take Hands NPC' te stig om sodoende toe te sien dat bydraes wat deur besighede, organisasies en die gemeenskap gemaak word, korrek aangewend word.
Die projek het ten doel om die gemeenskap te dien deur ondersteuning te bied aan persone wat in enige vorm van nood verkeer en om inwoners in staat te stel om betrokke te raak by nood in hul eie gemeenskap. Boonop bied die projek 'n webtuiste (www.takehands.co.za) waar skenkers kan adverteer.
Geld word benodig om die bedryfskoste van die aangekoopte voertuig volhoubaar te finansier en sluit ver-
sekering en instandhou-dingsdienste in. Sodra die persoon nie meer die voertuig benodig nie, word 'n volgende persoon geïdentifiseer wat daarvan gebruik kan maak.
Die projek bedank die volgende instansies wat reeds 'n groot rol gespeel het nadat die voertuig aangeskaf is: Pro Motors Riversdal vir die diens en skoonmaak daarvan en Jimmy's Body Works (Riversdal) wat die beskadigde wieldoppe weer nuut gemaak het.
Om geld aan te vul, is daar Take Hands-blikkies in sekere besighede en word pannekoek gereeld veral op die stoep van Stilbaai se Gatti's-winkel (net langs Hoofweg-Wes langs Baaija vir Bietjie by die kliniek) gebak en verkoop.
Besighede, organisasies en persone wat by dié gemeenskapsinisiatief betrokke wil raak, kan Corlea Louw by 064 903 7206, Alta Kleinhans by 072 798 3234 of Lardus Potgieter by 064 900 8122 skakel.
Die webtuiste sal van die grond af kom en oor al die inligting beskik sodra die eerste bydraes gemaak is.
Lees 'n vorige artikel hier: Projek vat hande om ander te help
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'