STILBAAI NUUS - Die wenners in die sewe kategorieë in die Stilbaai-sakekamer se prestige toekennings wat vanjaar weer kon plaasvind, is tydens 'n glansgeleentheid Vrydagaand 10 Junie in die gemeenskapsaal aangewys.
Die voorsitter, Rachel Wall, het in haar verwelkoming gesê dat die aand gaan om sakelui te vereer, blootstelling aan kleiner besighede te gee, om besighede aan te spoor en ook om personeel te bedank vir wat hulle gedoen het.
"Ek is verstom oor wat die sakelui vermag. Ry net deur Stilbaai en jy sien al die nuwe plekke en produkte, asook innoverende dienste wat aangebied word."
Sy het bygevoeg dat sukses is om iets beter te hê as wat jy gehad het.
Gertjie Odendaal van Oppiestoep-faam het as seremoniemeester opgetree en van die begin af die regte atmosfeer vir 'n heerlike en genotvolle aand vir die 210 gaste geskep.
Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaap minister van landbou, het as gasspreker oor leierskap in onstuimige tye gepraat en dit duidelik gemaak dat daar met die regte leierskap wel hoop is.
Van die probleme wat hy uitgelig het, was die Covid-19-pandemie en dat die Wes-Kaapse regering glo dat uitnemendheid moet bepaal hoe dit hanteer moet word.
Die oorlog in die Oekraïne wat 'n vernietigende invloed op die wêreld het, miljarde rand wat die regering daagliks leen om die staatskas solvent te hou omdat geld gesteel word, rentekoerse wat styg en strukturele hervorming wat volgens hom nie gaan plaasvind nie omdat die regering glo dat Eskom die regte model is, is verdere probleme wat die land in die gesig staar.
"Ontwerp denke is die manier om in hierdie onstuimige tye te oorleef. Kyk terug om die toekoms te sien.
"Die regering het ineengestort, maar gelukkig is daar instellings wat die ligte aanhou," het hy afgesluit.
Wenners
- Liefdadigheid en gemeenskapsdienste: Jagersbosch-gemeenskapsorgsentrum
- Voedsel en drank/Reis en toerisme: Coffee and Cream Restaurant
- Gesondheid- en skoonheidondernemings: Blombos Apteek
- Vervaardiging, konstruksie en boudienste: Kloof Houtwerke
- Eiendomsmark: Amanda Eiendomme
- Kleinhandelondernemings: OK Foods
- Dienste ondernemings: Pakketmoles
Die entrepreneur van die jaar, formele sektor, is Ursula van Huysteen van Bastion Business Consultants en in die informele sektor, Kobus Smit met sy tuindienste.
Die Voorsitterstrofee is aan Adolf Botes en Johannie Vermeulen van Stilbaai Kelders toegeken.
Dr. Ivan Meyer staan by Cato van der Bank, Lezanne Kotzé en Zane Joubert van Blombos Apteek.
Stilbaai-gemeenskapsaal is in Havana Nights omskep. Foto's. Johan Victor
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'