STILBAAI NUUS - Die poskantoor in Stilbaai het net vóór Kersfees, op 19 Desember, sy deure onbepaald gesluit.
Dit het omtrent 'n geskarrel onder, onder andere, besoekende hengelaars veroorsaak wat visvangpermitte wou uitneem en dit het hulle erg verontrief.
By die deur is slegs 'n nota opgeplak wat gesê het as gevolg van onvoorsiene omstandighede is die poskantoor gesluit. In die nota vra hulle wel om verskoning vir enige ongerief en sê dat hulle geen transaksies kan uitvoer tot verdere kennisgewing nie.
Daar was geen verduide-liking oor waar die duisende vakansiegangers visvang-permitte kan uitneem nie en nog minder 'n aanduiding waar Sassa-afhanklikes hul toelaes kon kry nie.
Die poskantoor se hoof-kantoor het tot op hede nog glad nie gereageer op 'n navraag van Suid-Kaap Forum rakende die kwessie nie, maar dit blyk dat die poskantoor nou al 'n geruime tyd nie hulle munisipale rekeninge betaal nie en dit het munisipaliteite regoor Suid-Afrika genoop om hul munisipale dienste op te skort. Dit verhoed die poskantoor om diens te lewer en vandaar die onbepaalde sluiting van poskantore.
By navraag blyk dit dat die poskantore in onder andere Struisbaai, Bonnievale, Bredasdorp en meeste klein poskantore rondom Mosselbaai ook gesluit is. Hoeveel ander daar in die land is, kan mens maar net oor wonder.
'n Groentewinkel wat winkelspasie by die poskantoor in Stilbaai huur, sit ook nou sonder krag en hulle moet nou maar gebruik maak van 'n kragopwekker teen 'n geweldige onkoste.
Stilbaaiers word aangeraai om Riversdal toe te gaan vir posdienste. Die vraag is net hoe lank gaan Riversdal-poskantoor nog sy deure oophou?
Die verval van hierdie eens trotse instansie is met een woord skokkend en volg in die voetspore van staatsentiteite soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens, Telkom, Eskom, Denel en Transnet, wat reeds in die afgrond in bestuur is deur korrupte ANC-kaders en amptenare. Van die poskantoor bly daar hier en daar nog net kantore oor, maar van pos is daar maar min te sien.
Gelukkig gee die passievolle posmeester in Stilbaai en haar assistent nog om vir die gemeenskap en kom sorteer hulle weekliks die pos en bel mense om pakkies te kom afhaal.
Mens kan net hoop en bid dat hulle nog hulle salarisse gaan kry, maar as die mense in beheer nie eens die basiese dinge kan doen soos om munisipale rekeninge te betaal nie, sal dit geen verrassing wees as mense nie gereeld betaal word nie en wink grootskaalse afleggings dalk ook vorentoe.
Stilbaai-poskantoor se deure is nou toe vir die publiek.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'