HEIDELBERG NUUS - Vier mans is Woensdag 19 Februarie gearresteer toe die plaaslike polisie hulle met verskeie dwelmmiddels en tikstrooitjies in hul besit betrap het.
D-skoflede onder leiding van ao. Karin Pretorius en sers. Daniël Moos het op 'n wenk gereageer toe hulle die mans in 'n bakkie op die N2, sowat 8 km buite die dorp, rigting Swellendam, afgetrek het.
Beslag is op 70 Mandrax-pille, vier pakke dagga en vier tikstrooitjies gelê.
Die verdagtes, waarvan twee op Slangrivier en twee op Heidelberg woonagtig is, het Donderdag in die hof op Swellendam verskyn.
Die saak teen hulle is voorlopig teruggetrek tot toetse by die laboratorium afgehandel is.
D-skof se lede is van links: Konst. MacDonald Marais, sersante Carlet September en Daniël Moos, konstabels Nigel Daniels en John Jansen, asook ao. Karin Pretorius. Foto: Clive Pretorius, korrespondent
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'