HEIDELBERG NUUS - Heidelberg-polisie, hul gemeenskapspolisieforum (GPF) en jeugtak, asook Hessequa-munisipaliteit se beskermingsdienste en raadslid Gerald Boezak het Woensdag, 5 Januarie 'n gesamentlike bewusmakingsaksie van stapel gestuur om inwoners en plaaslike besighede te waarsku dat daar ernstig teen oortreders opgetree sal word.
Voor die aanvang van die bewusmakingaksie het die jeugtak 20 gesinne in Hoogstraat met geskenkpakkies met toiletware gaan verras.
Dié pakkies was deur Sonja le Roux, Hessequa-wyksraadslid, geskenk.
Tydens die oorhandiging het Boezak en Heinrich Hartnick, GPF-voorsitter die begunstigdes toegespreek. Sersant Danwill Joseph, sektorbestuurder was aan die spits van die aksie.
Die bewusmakingsaksie is daarna van stapel gestuur, waartydens die groep verskeie huiswinkels besoek het waar die eienaars en werkers versoek is om aan die Covid-19-regulasies te voldoen, asook om nie sigarette aan minderjariges te verkoop nie. Hulle is ook gevra om aan alle munisipale en wetlike gesondheidsvereistes te voldoen.
Volgens sers Imorgene Hendricks, plaaslike polisiekommunikasiebeampte is boetes aan verskeie winkels opgelê wat vuurwerke verkoop het. Waarskuwings is aan winkels oorhandig wat nie behoorlike registrasiedokumente kon verskaf nie.
Die jeugtaklede, onder leiding van Charmaine Esau, jeugtakvoorsitter het in samewerking met Jayden Gabriels, direkteur: Childrens Voices en voorsitter van die Kaapse Vlakte Veiligheidforum (jeug) hulle toegespits om die jeugdiges van die buurt in te lig oor die gevare van drank- en dwelmmisbruik.
Volgens Hendricks en Joseph was die aksie 'n groot sukses en gaan hulle meer gereeld sigbaarheid handhaaf om misdaad daadwerklik te bekamp en hopelik uit te roei.
Hendricks het 'n beroep op inwoners gedoen om by die buurtwag en/of die jeugtak en traumakamer (VEP) aan te sluit.
Meer inligting kan van Hendricks (079 893 9930) verkry word.
Van die spazawinkels wat besoek was deur die lede van die GPF, polisie en GPF se Jeugtak.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'