HEIDELBERG NUUS - Heidelberg-polisie het op 29 September 'n biddag gehou waartydens op hul veiligheid gefokus is. Die verrigtinge is in die AGS Kerk-Wes gehou.
Adjudant-offisier Alroy Windvogel, plaaslike kommunikasiebeampte het as programleier opgetree.
Kaptein Mervyn Zana het die opening en verwelkoming, asook die bedankings behartig. Die doel van die verrigtinge is deur lt kol Sipho Dyani, stasiebevelvoerder verduidelik. Die ongeveer 50 aanwesiges het grootliks uit plaaslike lede, asook 'n paar plaaslike inwoners bestaan.
Sersant Lauriane Botha van Groot-Brakrivier was die gasspreker. Pastoor Mike Gosling het die skriflesing en preek gelewer. Hy het die lede daarvan verseker dat, hoewel hulle baie kritiek van buite kry, hy en baie ander dankbaar is vir hul onbaatsugtige diens. Hy het gesê dat hy weet dat hulle 'n moeilike tyd deurmaak, maar dat hulle hul geloof in God moet anker.
Volgens Gosling is dit ontstellend dat die kwessie van black lives matter so baie aandag geniet, terwyl dit eintlik all lives matter moet wees omdat een lewe geneem reeds te veel is. "Die probleem vandag is dat mense nie eers meer vir God respek het nie, hulle lewe wetteloos. God verwag dat ons die Evangelie moet uitdra aan die mense."
Botha, wat vroeër vanjaar ook deur die Covid-19-virus platgetrek is, het gesê sy wens nie dié virus aan haar grootste vyand toe nie.
Sy het hulle gemaan om dit ernstig op te neem, omdat dit nie 'n goeie ervaring is om deur te maak nie. Sy het afgesluit met die volgende stelling: "Don't limit your challenges, challenge your limits."
Die polisielede was deel van die biddagdiens. Heel links agter staan lt kol Sipho Dyani, knielend voor regs is kapt Mervyn Zana, agter hom staan kapt Noluvuyo Mbiyo en sers Lauriane Botha. Foto: Clive Pretorius
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'