RIVERSDAL NUUS - Rebecca Johnson, bekend vir die geestelike dansgroep wat sy begin het vir straatkinders in Kwanokuthula asook haar sopkombuis, Becca's Soup Kitchen, waaruit sy drie keer per week aan sowat 300 honger inwoners van dié woonbuurt kos voorsien, is besig met groot planne vir Jeugdag, 16 Junie.
Sy wil die jeug vir die tweede agtereen-volgende jaar op Jeugdag met voedsame sop en brood bederf juis omdat die dag spesiale betekenis het vir die jeug. Sy sê sy het verlede jaar al besef hoeveel kinders wat daar opdaag, het vir 'n dag of drie nog niks oor hul lippe gehad nie.
"Met Jeugdag wat op 'n Vrydag val, gaan baie van hulle die naweek in sonder die vooruitsig van iets om te eet."
Rebecca sê hulle verwag ongeveer 300 kinders op die dag. "Ek is nou besig om saam met ons hardwerkende wyksraadslid, Betsie van Noordwyk, en haar regterhand, Suzanne Olivier, ons program vir Jeugdag-vieringe te beplan. Ons hoop om dit binne die volgende week of so te finaliseer.
"Ons sou bitter graag kospakkies aan elkeen wou uitdeel, maar dalk mik ons te hoog. Ons is totaal afhanklik van weldoeners en besighede om kos te skenk vir die kospakkies, maar ons werk aan 'n plan. Maar ten minste kan die kinders wat opdaag seker wees dat hulle iets warms gaan kry om te eet.
"Ai meneer, die nood is só groot en mens weet nie waar om oral gate toe te stop nie. Maar as iemand nie iets doen nie, hoe gering ook al, gaan daar 300 kinders op Jeugdag, 'n openbare vakansiedag, doelloos in die strate ronddrentel. Nou probeer ek maar iets doen om hul nood te verlig."
Mense wat kan help met kosskenkings of dalk 'n bietjie kontant kan afknyp wat sy kan gebruik om kos te gaan aankoop, kan dit weer by Suid-Kaap Forum se kantoor in Heidelbergweg 29 by die redakteur, Hugo Redelinghuys, of Sade Rossouw by ontvangs kom aflaai.
Hulle sal dit aan Rebecca besorg.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’