STILBAAI NUUS - As deel van Kinderbeskermingsmaand het die plaaslike polisie 'n wonderlike geleentheid vir plaaskinders en hulle ouers op Kasselshoop aangebied
Die organiseerders van hierdie uitreik op Vrydag, 13 Mei was sersant Christiana Lewaks, sosiale misdaadkoördineerder en sersant Godwin Johnson.
Lewaks het ernstig met die ouers gepraat oor die gebrek aan dissipline by kinders.
"Hulle het nie meer 'n benul van gehoorsaamheid nie. Ouers blameer te maklik ander instansies wanneer hulle kinders die pad byster raak en vergeet dat hulle sosiale leefstyl 'n groot invloed op hul kinders het," het sy gesê."
Deon du Toit van die departement maatskaplike ontwikkeling op Riversdal het oor die impak van geslagsgebaseerde geweld op 'n gesin gepraat. Hy het hulle ook daarop gewys dat daar plekke van veiligheid vir ma's en hulle kinders is in geval van geweld en mishandeling op Albertinia (korttermyn) en Heidelberg (langtermyn).
Christel Cloete van die Stilbaai gemeenskappolisieforum het dit op die ouers se harte gedruk dat dit hulle plig is om hulle kinders veilig te hou, te versorg en op te voed. Sy het ook die kinders geleer hoe om die noodnommer, 10111 te onthou.
Gerda Papendorf, hoof van die plaaslike biblioteek het gesê dat boeke en lees 'n baie belangrike rol in kinders se lewe speel. Sy het ook boeke vir die leeshoekie geskenk wat op die plaas, Kasselshoop ingerig gaan word.
"As enigiemand aan enige deel van jou lyfie vat en jy wil nie hê hulle moet dit doen nie, moet jy sê: 'Stop!' of 'Moenie!''' So het Elna van der Merwe, vryskut-joernalis en organiseerder van die Stilbaai-boekefees voorgelees uit Kom ons praat waar babas vandaan kom.
Gershwin Jones, kaasmaker van Kasselshoop het sy storie van hoop met die kinders en hulle ouers gedeel.
"My omstandighede het my inspireer. Ek wou nie die res van my lewe in armoede bly nie. Ek het gesien hoe mense om my deur drank en dwelms verwoes word en ek het vir myself gesê ek gaan nie so wees nie. Ek het my omstandighede gebruik as 'n 'stepping stone' om te kom waar ek vandag is."
Jones is verlede jaar as beste kaasmaker in die land bekroon en dit het hy bereik omdat hy die regte keuse gemaak het.
Nog 'n spreker, Monrico Lupini het ná skool aan die Bybelskool studeer danksy geldelike skenkings en so het hy 'n pastoor geword. Vandag is hy bestuurder van Kasselshoop Kaasmakery nadat hy reg onder begin het as vloerveër.
Na die besige oggend kon die kinders weglê aan warm worsbroodjies en bont kolwyntjies.
Die ouers en kinders bedank al die borge vir hul bydraes vir 'n suksesvolle dag.
Sersante Christiana Lewaks en Godwin Johnson, asook Christel Cloete by 'n paar kinders.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'