HESSEQUA NUUS - Skokkende getuienis oor beweerde seksmisdrywe op kinders van so jonk as drie jaar oud word in verskeie howe binne die Hessequa-streek aangehoor.
Min mense is bewus van die saak teen 'n vermeende pedofiel van Stilbaai, klagtes teen 'n saambly-paar van Albertinia oor seksdade op hul driejarige kind, verkragting- en poging tot moord-klagtes teen 'n voormalige Heidelberg-polisieman en sy vriend, asook 'n voormalige Heidelberg-onderwyser se beweerde seksuele neigings teenoor 'n skoolkind, tans onder verhoor.
Kaptein Malcolm Pojie, Suid-Kaap polisiewoordvoerder sê die name van die beskuldigdes en slagoffers se familie word weerhou om die kinders se identiteit te beskerm.
'n Vermeende pedofiel het Vrydag, 18 September in die Stilbaai-streekhof verskyn. Hy word daarvan beskuldig dat hy oor 'n tydperk van drie jaar seksdade met twee kinders van onderskeidelik agt en 10 jaar oud sou gepleeg het na hy hulle vertroue gewen het.
Pojie sê die verdagte bly in aanhouding. Hy het bevestig dat die vermeende pedofiel van nog talle ander soortgelyke misdrywe aangekla kan word.
Oor bewerings dat die beskuldigde oor dié tydperk en selfs langer as 'n reeks kinderverkragter in die Stilbaai-omgewing bedrywig was, het Pojie gesê dit maak deel van die ondersoek uit. "Soos die verhoor verloop verwag ons dat nog slagoffers na vore sal kom. Die ondersoek is in 'n sensitiewe stadium en kan ons nie nou meer besonderhede bekend maak nie."
Die vermeende pedofiel gaan op Woensdag, 9 Oktober aansoek doen om borgtog, maar Pojie sê die staat sal dit teenstaan.
'n 42-Jarige man van Albertinia het Donderdag, 17 September in die Albertinia-landdroshof verskyn op aanklag dat hy sy agtjarige dogter verkrag het toe sy drie was.
Volgens Pojie is die ondersoek al 'n jaar aan die gang en is die verdagte op Woensdag, 2 September in hegtenis geneem. "Deur middel van sielkundige intervensie het die slagoffer die gebeure verwoord en kon haar weergawe na die jare neergepen word," het Pojie gesê. Hy sal weer op 15 Oktober in dieselfde hof voorkom.
Die kind se ma is van kindermishandeling en -verwaarlosing aangekla en sal op Woensdag, 9 September weer in die Riversdal-streekhof verskyn. Hierdie saak is begin 2016 aangemeld en reeds in 'n gevorderde stadium van verhoor.
Heidelberg is ook geteister deur beweerde seksmisdade.
'n Voormalige Heidelberg-polisieman en nog 'n verdagte verskyn op 15 Oktober in die Riversdal-streekhof op 'n reeks aanklagte van verkragting en nog meer.
Pojie sê hierdie klagtes spruit uit voorvalle in 2016. "Die saak is reeds in finale stadium van verhoor, dus kan ons geen verdere besonderhede bekend maak nie aangesien die saak as sub juduce beskou word.
So moet 'n voormalige Heidelberg-onderwyser ook bewerings van seksuele aanranding van 'n skoolkind in die gesig staar. Die verdagte is tans uit op borg en verskyn op 15 Oktober in die Riversdal-streekhof.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'