ALBERTINIA NUUS - 'Die pad van die dood'... Dis hoe die N2 tussen Albertinia en die Stilbaai-afdraai by menige inwoner en padgebruiker bekendstaan, omdat ernstige en noodlottige ongelukke gereeld daar plaasvind.
Suid-Kaap Forum het deur die jare gereeld hieroor berig. Op sulke tonele was van die omstanders en selfs insittendes wat so 'n ongeluk oorleef het dit eens: dele van die pad moet verbreed word sodat motoriste stadige voertuie of vragmotors veiliger kan verbysteek.
Vanaf die Gouritzrivierbrug tot na die Stilbaai-afdraai is daar nêrens dele wat verbreed is nie. Soggens, met die son reg van voor, is dit bitter moeilik om aankomende verkeer op te merk. Dieselfde geld ook wanneer digte mis oor die pad hang, of wanneer dit reën en die missproei vanaf 'n vragmotor se wiele dit onmoontlik maak om verby te steek.
Volgens wet mag stadige voertuie of vragmotors nie op die skouer van die pad ry sodat voertuie kan verbygaan nie omdat dit 'n noodbaan is. Baie maatskappye verbied ook hul vragmotorbestuurders om in die noodbaan te ry, maar daar is van hulle wat dit doen omdat hulle sien dat voertuie agter hulle ophoop - of dat iemand van plan is om 'n kans te waag waar dit nie geoorloof is nie.
Suid-Kaap Forum het berigte en foto's van ernstige en/of noodlottige ongelukke wat sedert 2019 op dié pad plaasgevind, en waaroor die koerant berig het, in Augustus aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral), wat vir die N2 verantwoordelik is, gestuur. Die vraag is gevra of dit enigsins in hul beplanning is om dele van die pad te verbreed, synde die hoë ongeluksyfer.
Na verskeie opvolg e-posse het Melany Kuhn, woordvoerder vir FTI Consulting op 31 Oktober gesê dat Sanral tans na die botsingstatistieke vir daardie gedeelte van die pad kyk. Twee weke later, op 16 November is die uitslag bekendgemaak. Verbeterings is wel in die pyplyn, maar geen verbreding van die pad word beplan nie.
"Die verbeteringsprojekte om die N2 tussen Riversdal en Mosselbaai-Wes-wisselaar te verdubbel sal vroeg in die volgende boekjaar (2023/24) op tender vir ontwerp wees," het Kuhn verduidelik.
"Sanral beplan periodieke instandhoudings-kontrakte in die vorm van heropbou met nuwe padmerke en padstoete (road studs) tussen Riversdal en Gouritsmond wat teen die einde van 2022/23 geskeduleer is.
"Soortgelyke werke word tussen Gouritsmond en Mosselbaai beplan om teen einde 2022 op tender uit te gaan. Geen verbreding word egter ingevolge hierdie heropbouingskontrakte beplan nie, hoewel Sanral die bekendstelling van rommelstroke/flap-stoete (rumble strips/flap studs) op gedeeltes sal ondersoek om onwettige en onveilige verbysteek te ontmoedig."
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'