Update
SLANGRIVIER NUUS - Slangrivier se oudste Kersorkes, Loving Shepherds het Sondag, 13 Junie hulle algemene jaarvergadering in die plaaslike gemeenskapsaal gehou.
Die verrigtinge is deur Collin Hopley, Cape Country Kersorkes Unie (CCKOU) se voorsitter bygewoon. Hy het ook as verkiesingsbeampte fasiliteer.
Die koor vier vanjaar hul 69ste bestaansjaar. Nagenoeg 45 lede het die vergadering bygewoon waartydens Ricardo Hartnick tot voorsitter verkies is.
Hy het sedert die skielike heengaan van Gert Boezak verlede jaar as voorsitter waargeneem. Gerald Boezak, wyksraadslid en seun van die oorledene, is as ondervoorsitter verkies. Niklaas Pietersen, bekend as sportadministrateur is sekretaris, met Charné Boezak as hulp-sekretaris. Helisa Esau sal as kassier na die organisasie se geldsake omsien en voltooi dan so die instansie se top vyf uitvoerende komitee.
Hartnick het die lede bedank vir hul vertroue om hom as voorsitter te verkies. Hy het hulle verseker dat hy net sy beste vir die voortbestaan van die koor sal gee. Hy het ook genoem dat hy besef hy moet die groot spore wat wyle Boezak nagelaat het vul, maar dat hy ook gaan probeer om daarop te verbeter.
Hopley het die lede bedank vir die goeie gees waarin die verrigtinge verloop het. Hy het hulle ook geloof vir die eenheid wat daar in hul geledere heers.
"Ek moet benadruk dat ek baie beïndruk is dat ten spyte van die pandemie wat ons nou nog in die gesig staar, julle steeds as 'n eenheid saamgewerk het om die voortbestaan van die instansie te verseker," het hy gesê.
Die lede is tot die bestuur van Loving Shepherds Kersfeeskoor verkies. Van links, agter staan Elroy Smith (onderkaptein), Lee-Ann Hartnick (trustee), Andrey Boezak (kaptein), Riezel Fortune (trustee), Lizel Boezak (musiek-bewaarder), Niklaas Pietersen (sekretaris), Louis Boezak (president) en Ricardo Boezak (voorsitter). Voor: Collin Hopley (CCKOU voorsitter), Helisa Esau (kassier), Charné Boezak (hulpsekretaris) en Gerald Boezak (ondervoorsitter). Foto: Clive Pretorius
Streng Covid-19-protokol is tydens die vergadering gehandhaaf.
Vorige artikel: Loving Shepherds kies bestuur
'Ons bring jou die nuutste Slangrivier, Hessequa nuus'