Update
HESSEQUA NUUS - Dr. Joan Prins, voormalige speaker en oud-raadslid van Hessequa-munisipaliteit is Woensdag 25 Maart na 'n kort siekbed oorlede.
Joan Human is op Swellendam op 19 April 1950 gebore. Sy behaal haar matriek in 1968 aan Hoërskool Swellendam waarna sy haar BA-graad in 1971 aan die Universiteit van Stellenbosch behaal.
In 1972 begin sy by die staatsargiefdiens as argivaris te werk. Die ewige leerder behaal haar honneursgraad in 1975, meestersgraad in 1980 en haar doktorsgraad in 1983 deur Unisa. Haar verhandelinge gaan dan ook oor haar heimat, die westelike Overberg.
In 1985 behaal sy haar nasionale diploma in argiefwetenskap met onderskeidings in twee afdelings. Na haar aftrede by die staatsdiens vestig die gesin hul op Caledon.
Prins was by Bredasdorp-munisipaliteit, asook Overberg- distriksmunisipaliteit werksaam.Sy skryf in 1988 die boek, Anker aan die Suidpunt oor die ontstaansgeskiedenis van die Bredasdorp NG Moedergemeente vanaf 1838 tot 1988.
In 1991 stel sy die geskiedenis van Sentraal-Suid Koöperasie (SSK), wat werksaam was in Swellendam en Heidelberg met die titel Werk saam, Wen saam in boekvorm bekend.
Die Prins-egpaar verhuis later na Stilbaai en sy word verkies as raadslid en later as speaker van die munisipale raad. Hier was sy as 'n uitstekende strateeg bekend, wat op stiptelikheid gesteld was. Voormalige kollegas beskryf haar as 'n goeie spreker, uiters professioneel en toegewyd. Die egpaar het later na Yzerfontein aan die weskus verhuis.
Met saktyd was die begrafnisreëlings nog nie bekend nie.
Die boek wat sy in 1988 geskryf het.
Lees 'n vorige artikel: Oud-speaker van Hessequa oorlede
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'