Update
RIVERSDAL NUUS - Reën wat die afgelope naweek oor die Hessequa-streek uitgesak het is baie welkom, maar nie genoeg om die droogte te breek nie.
"Ons is dankbaar vir die reën, maar as daar nie gou opvolgreën val nie, gaan die gebrek aan veevoer die boere se grootste probleem wees,"
sê Callie Jordaan, streekverteen-woordiger van boere in die Hessequa-streek by Agri Wes-Kaap.
"Weens die droogte kon boere nie voer aanplant nie en alle voer moet aangekoop word. Selfs al plant die boere nou, gaan daar sonder opvolgreën nie 'n oes wees nie. Dit sal ook 'n tyd duur voordat daardie oes afgehaal kan word."
Volgens Jordaan het die reënval in die Hessequa-streek met sowat 50% afgeneem. "Ons het laas in 2015 redelik normale reënval gehad. Die droogte, wat al vier jaar duur, het die afgelope twee jaar feller geword."
Langs die Langeberge, waar dit gedurende 'n normale reënvaljaar gemiddeld sowat 800 mm/jaar reën, het in 2018 net 412 mm geval. Waar kleingraan op droëland geplant word, het in plaas van 350 - 400 mm/jaar, verlede jaar net 140 -200 mm geval.
Weens die droogte moes boere hul dubbeldoel-skaapkuddes met tot 40% verminder. Suiwelboerdery het met 15% afgeneem en daar bestaan nie meer droëland-suiwelboere nie.
Melk- en vleispryse het ook die afgelope 18 maande getuimel:
- Die melkprys het afgeneem van R5,50/liter tot R4/liter
- Die prys van skaapvleis het afgeneem van R58/kg tot R50/kg
- Die prys van lamsvleis het afgeneem van R72/kg tot R60/kg
- Beesvleis se prys het afgeneem met tussen 8 tot 10%
Baie van die boere het nie meer water vir hul vee nie. "Die kwotawater wat boere uit die Korentepoortdam kan kry, is reeds met 40% ingekort. Wanneer dié dam, wat net 38,8% vol is, tot 35% daal, sal boere geen water uit die dam kry nie." Die Duivenhoksdam by Heidelberg het 41% water.
Volgens Jordaan kon baie van die saaiboere nie hul insetkoste dek nie, maar hulle is steeds hoopvol. "Goeie reëns sal baie vir die gebied beteken en die boere se gemoed lig."
Lees 'n vorige artikel hier: Droogte, lae pryse knel boere
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'