Volgens kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaap mediawoordvoerder het die ongeluk teen ongeveer 05:45 bykans 2 km buite Riversdal in die rigting Heidelberg gebeur. Met die plaaslike polisie se aankoms op die toneel het 'n swaarvoertuig wat sement vervoer het, die pad versper nadat dit omgeslaan het.
"Met nadere ondersoek het die lede 'n wit VW Polo met 'n Oos-Kaapse registrasienommer wat gedeeltelik onder die vragmotor vasgepen was, aangetref," het Pojie verduidelik en bygevoeg dat een van die volwassenes, Lee Cunningham glo met die impak op slag gesterf het. Hy was vermoedelik in sy dertigs.
'n Jong seun, Cody Abrahams (11) het later in die plaaslike hospitaal gesterf. Letitia Abrahams (38), Damian Abrahams (17), Kyle Labercensie (10) en Sandy Abrahams (4) was met ernstige beserings in die hospitaal opgeneem. Een van die beseerdes was per helikopter na die hospitaal op George vervoer. Die vragmotorbestuurder was met geringe beserings in die hospitaal opgeneem en is later ontslaan.
Na bewering het die bestuurder van die Polo nie die vragmotor in die pad gesien het nie en kon as gevolg daarvan nie betyds stop om die ongeluk te vermy nie. Hulle was blykbaar vanaf Kaapstad na Port Elizabeth op pad.
Die vragmotorbestuurder (29) het Maandag in die Riversdal landdroshof op aanklagte van manslag en dronkbestuur verskyn.

Reddingspersoneel besig om die insittendes uit die motor te bevry. Foto's: Clive Pretorius.