'n Loodskomitee, onder die voorsitterskap van ds. Lourens van Vuuren, het Donderdagaand, 6 Maart verteenwoordigers van verskeie instansies in die Duivenhoks gemeenskapsaal oor hierdie euwel toegespreek. Volgens Van Vuuren is die komitee al geruime tyd op die been gebring omdat daar groot bekommernis oor die probleem is. Die doel van die byeenkoms was om 'n taakspan bymekaar te kry om iets daadwerkliks te doen. Verskeie sprekers van onder andere die polisie, kliniek, kerke en skole het hul menings uitgespreek oor hoe hul die euwel ervaar.
Maj. Jeremy Lewak, plaaslike stasiebevelvoerder, het genoem dat hulle gemiddeld 30 dwelmverwante gevalle per maand hanteer. Hy het ook hul bekommernis oor die verspreiding van veral Tik in beide Heidelberg en Slangrivier uitgespreek. Volgens Lewak is die groot probleem die klomp 'rompslomp' wat met die vervolging van smokkelaars gepaardgaan. "Ons loods klopjagte en doen arrestasies, net om by die hof te hoor die 'dwelms' moet vir toetse weggestuur word". Hy noem dat dit frustrerend is omdat die toetse baie lank neem en voor hul werklik teen die verdagtes kan optree.
Hy het bygevoeg dat die munisipaliteit die voortou in dié verband moet neem.
Sr. Elize Geldenhuys, een van die loodskomiteelede, het gesê dat dit kommerwekkend is dat die probleem al meer onder baie jong kinders aan die toeneem is. "Ouers moet op die uitkyk wees vir drastiese gedragsveranderinge by hul kinders," het sy gemaan. Reggie Baker, onderwyser, het gesê dat kommerwekkend is om te sien dat, terwyl sommige inwoners op pad kerk toe is, ander vir die drankwinkel wag om oop te maak. Beide Baker en Lewak het genoem dat die munisipaliteit dié wetgewing kan verander deur die besluit te herroep.
Annelene Hartnick, wyksraadslid, het beklemtoon dat dit lankal nie meer 'n Oos-Dorp probleem is nie. "Ek sien vele jeudiges van die dorpsgebied wat in die Oos-Dorp rondloop. Ons weet wat hulle hier kom soek." Tydens die verrigtinge het die verskeie sektore onder mekaar beraadslaag oor hoe hul die pad vorentoe sien. Daar is niks bindend saamgestel nie, maar 'n soortgelyke samekoms sal weer in die nabye toekoms gehou word waar die verskeie strategieë voorgelê sal word.
Munisipale kommentaar
Susan Vosloo, media woordvoerder van die Hessequa munisipaliteit: "Die Hessequa verordening insake drankhandelsure is op 20 April 2012 in die provinsiale koerant afgekondig, nadat 'n intensiewe publieke deelnameproses gevolg is. Die bestaande verordening laat drankverkope ten opsigte van verbruik vanaf die perseel op Sondae toe. 'n Aantal vertoë en beswaarskrifte is onlangs vanaf die Albertinia en Riversdal gemeenskappe ontvang, waarin versoek word dat die bestaande verordening gewysig word. Geen versoek is van die Heidelberg gemeenskap ontvang nie.
"Die Hessequa raad het tydens 'n vergadering op 29 Januarie vanjaar kennis geneem van die skrywes en sal 'n publieke deelnameproses om die meerderheid van die gemeenskap se behoefte te bepaal, as prioriteit in die 2014/2015 finansiële jaar gedryf word. Die uitvoerende burgemeester, rdl. Emor Nel het die eerste vergadering van die loodskomitee bygewoon op Heidelberg, waarna mnr. John Gertse (hoof, sosiale ontwikkeling) toegewys is om alle loodskomitee vergaderings in 2014 namens die munisipaliteit by te woon. Hessequa Munisipaliteit is toegewyd ten opsigte van sy betrokkenheid om drank- en dwelmprobleme in die streek aan te spreek en daadwerklike oplossings te vind."

Die groep lede het hul oor die groot euwel van drank- en dwelmmisbruik ontferm en maak deel uit van die loodskomitee wat op die been gebring is. Van links staan Leon Page, bekende aktivis teen dwelm- en drankmisbruik, sr. Elize Geldenhuys, ds. Lourens van Vuuren, komitee voorsitter en Len Burger, jeug evangelis.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus