Die tee is aangebied deur die uitvoerende burgemeester, rdl. Emor Nel en het sy bonusse aan die tuisversorgers oorhandig wat dienste in die Hessequa-streek verrig. DROOM lewer 'n ten volle geïntegreerde diens aan bejaardes en gestremdes in die gemeenskap van Riversdal en sy omgewing, ongeag hul geslag, ras, geloof of politieke affiliasie.
Hul visie en missie is om uitnemende diens aan die bejaardes en gestremdes te lewer en die gemeenskap te dien deur die maksimum gehalte van lewe te verseker en hulle te voorsien met bekostigbare fisiese, emosionele en geestelike versorging.
Raadslid Andrew Stroebel het as seremoniemeester opgetree en sangitems van Romeo du Toit het die gaste betower. Nel het in haar toespraak die tuisversorgers en bestuur van DROOM bedank vir die wonderlike werk wat hulle gedurende 2012 verrig het en die Hemelse Vader bedank vir die inspirasie en leiding wat hy toedien aan elkeen in die verrigtinge van hul daaglikse take. "Ek weet dit was nie altyd maklike omstandighede nie, maar julle het, ten spyte van weersomstandighede, aansteeklike siektes ensovoorts, nogtans jul plig met ywer en toewyding verrig. Mag u ryklik geseën word vir die onbaatsugtige diens wat julle lewer".

Agter van links is mnr. Chris Veldsman (bestuurder van DROOM), ds. Bamberger, rdl. Charles Prins en mnr. Chris Onrust (Hessequa munisipaliteit). Voor van links is Anel Snyman (koördineerder Riversdal, Albertinia), Helene Swart (koördineerder Heidelberg, Slangrivier) en die uitvoerende burgemeester, rdl. Emor Nel. Foto: Susan Vosloo.