Tenspyte van erge reënweer is die fees goed ondersteun deur inwoners asook besoekers. Die dorp is behoorlik oranje geverf met pampoene, pampoenresepte, pampoengeheime, pampoen-idees, pampoenpitte (wat reeds in pampoene verander het) en allerhande pampoenverwante dinge!
Gert van Deventer, verlede jaar se wenner het weer met die louere asook wentjek van R5000 (geborg deur OK Grocer, Stilbaai) weggestap toe sy pampoen die skaal laat tiep het op 402.5kg. Vic Brand was in die tweede plek met 'n pampoen van 372kg en Pienkie Swart in die derde plek met sy pampoen van 332kg.
Die twee prys was R4000 geborg deur Nedbank Stilbaai en die derde prys R3000, geborg deur Engen Stilbaai. Volgens Gert is die geheim baie water en kos en voila, jy groei 'n Goliat Pampoen. Chrisjan Gunter se pampoen is gekroon as die mooiste pampoen, George Moolman se inskrywing as die lelikste pampoen, Carel Robertson het die 'Plotte pampoen'(221kg), prys ingepalm. Jacques Marais van Stilbaai het die 'Stilbaai plaaspampoen' prys opgeraap en Daniel September van Melkhoutfontein die Melkhoutfontein pampoen.
- Uitslae die afgelope jare:
- 2006: Leon Stemmet: 176,4kg
- 2007: Alta Goosen: 202kg
- 2008: Gert van Deventer: 189kg
- 2009: C van Rensburg: 199kg
- 2010: Leon Stemmet: 284kg
- 2011: Leon Stemmet: 325kg
- 2012: Gert van Deventer: 366kg