Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - 'n Vreedsame protesoptog oor behuisingsnood het Vrydag 6 September sakelui in die dorp se senuwees gedaan gehad.
Inwoners en sakelui is vooraf hoofsaaklik deur middel van sosiale media gewaarsku om teen plundering voorsorg te tref.
Dit was opvallend hoeveel besighede veral in Kerkstraat hul deure gesluit en van agter glas of van balkonne af die verrigtinge gade geslaan het. 'n Klein groepie buurt- en plaaswaglede het vanaf winkelstoepe die strate bespied.
Tog was die doel van die optog allermins om die dorp te ontwrig. Volgens Sibusisu Phongolo, voorsitter van die behuisingskomitee en woordvoerder vir wyke 6, 7 en 8, wat die optog gereël het, was die doel van die protesaksie om die munisipaliteit te dwing om op die dringende versoek van inwoners wat baie jare lank tevergeefs vir huise wag, te reageer. "Ons het al hoe lank terug vir huise aansoek gedoen en ons wag steeds vir antwoorde."
Die groep het net na 13:00 vanaf die Anna Lupini-gemeenskapsaal in Kwanokuthula vertrek.
Kyk 'n video hieronder:
"Dit gaan oor behuising - mense, en veral bejaardes - wat al baie jare op die waglys vir huise is en steeds in sinkhokke bly," het Wendy Davids gesê waar sy saam met ander vroue in die skadu van 'n bushalte gewag het dat die aksie moet begin. "Daar was al soveel vergaderings deur die jare en die munisipaliteit het nooit antwoorde nie. Dit gaan nie oor die ANC of DA nie, dit gaan oor familie en naasbestaandes - ek baklei vir hulle, want ek is lief vir hulle."
Klara Tromp het gesê: "Van 2003 af word niks gesê oor huise vir Riversdal nie, dis net Stilbaai en Melkhoutfontein wat huise kry."
Die groep het onder polisiebegeleiding met 'n skuifelstappie op maat van dreunsang van die woonbuurt af met die Vermaaklikheidpad na die N2 gestap. In die middel van die hoofpad het hulle 'n paar minute lank dansend vertoef, voor hulle in Heidelbergweg en Dicksonstraat af na Kerkstraat gestap het. Toe het hulle regs in Hoofstraat en weer regs in Van den Bergstraat gedraai en tot voor die burgersentrum gestap.
Hier het Phongolo die skare, wat mettertyd tot sowat 150 aangegroei het, toegespreek. Sy toespraak was met tye opruiend, maar oor die algemeen het dit by die tema van behuising gehou.
Die versoekskrif waarin huise geëis word, is aan burgemeester Grant Riddles, bygestaan deur onder andere onderburgemeester Johannes Hartnick, speaker Andrew Stroebel en Chris Onrust en onder beskerming van gewapende lede van openbare orde-polisiëring van George, oorhandig. Riddles het die protesgangers belowe om binne 14 dae terugvoer te gee.
A crowd of about 150 community members of among others Kwanokuthula participated in a peaceful march demanding housing on Friday 6 September. They handed a memorandum to mayor Grant Riddles on the steps of the community hall.
Rdl. Chris Onrust onderteken die versoekskrif, terwyl burgemeester Grant Riddles, links, en speaker Andrew Stroebel, regs, toekyk. Heel links is Claudio Conradie van die ANC en regs Sibusiso Phongolo, organiseerder van die optog.
Gewapende lede van die openbare orde-polisie staan wag op die stoep van die burgersentrum. Foto's: Tisha Steyn
Lees 'n vorige artikel hier: Optog oor huise het sakelui op hol
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'