HESSEQUA NUUS - AfriForum se buurt- en plaaswaglede het onlangs opleiding ontvang wat hulle in staat stel om op ongelukstonele lewens te help red.
"Altesaam 21 lede verbonde aan AfriForum se Hessekwa-tak het op 11 en 12 April EFAR-opleiding ontvang,"
sê Johan Crous, voorsitter van die tak se portefeulje: gemeenskapsveiligheid. EFAR staan vir Emergency First Aid Responder en die kursus is by die NG Kerk Riversdal-Wes aangebied.
Die opleiding is daarop gemik om vrywilligers en gemeenskapslede wat eerste by ongelukstonele opdaag met die nodige kennis en vaardighede toe te rus om beseerde persone op die toneel te behandel.
"Dit is 'n reusedeurbraak en gee erkenning aan die mans en vroue van Hessequa wat goed georganiseer is en dikwels eerste by ongelukstonele opdaag."
Volgens Crous is die waarde van die buurt- en plaaswaglede onlangs opnuut beklemtoon toe hulle eerste op 'n ongelukstoneel op die R305 tussen die N2 en Stilbaai was.
"As AfriForum-tak kan ons 'n positiewe bydrae tot ons gemeenskap maak. Die opleiding bemagtig ons om enige ongelukstoneel te beveilig en te help om lewens te red.
Ons het 'n praktiese en teoretiese eksamen afgelê en sertifikate en identiteitskaarte ontvang. Ons is dankbaar vir die geleentheid - ons het hard gewerk daarvoor," sê hy.
"Ons is baie trots op die Hessekwa-tak. Wat hulle hiermee bereik het is presies waarvoor AfriForum staan en waarna ons strewe - ons is 'n selfdoenorganisasie wat in diens van die hele gemeenskap staan en saam hoop skep.
Ons wil die publiek uitnooi om by ons aan te sluit, want saam kan ons bo hedendaagse uitdagings uitstyg en Suid-Afrika werklik 'n beter plek vir almal maak," sê Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'