RIVERSDAL NUUS - Die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) is ontwerp om elke persoon in Suid-Afrika in staat te stel om gehaltegesondheidsorg te ontvang.
Die NGV beoog om:
- op 'n regverdige basis fondse aan openbare en privaat gesondheidsorgwerkers te voorsien, wat dit sal moontlik maak dat almal goeie behandeling ontvang;
- gratis gesondheidsorg vir almal bied, of jy geld vir behandeling het of nie;
- voorkom dat jy kontant by 'n hospitaal of dokterspreekkamer hoef te betaal;
- hospitaalfooie by staatshospitale te laat wegval;
- te voorkom dat jy 'n gedeelte van die rekening self moet betaal soos die geval met die meeste mediese fondse is.
Suid-Kaap Forum se lesers het uiteenlopend op 'n vraag op sosiale media oor die NGV vir hulle sal werk, reageer. Daar is die wat meen die stelsel is gedoem tot mislukking.
Jaco Kleynhans: "Dit kan dalk mooi doelwitte wees, maar die staat beskik nie oor die vermoë om hierdie doelwitte te verwesenlik nie."
Chris Nolan: "Drome is goedkoop, maar om dit te realiseer, kos werk, wat ons weet die besluitnemers nie van hou om te doen nie; en befondsing, wat gerieflikheidshalwe iemand anders se geld moet wees. Dit vereis ook kundigheid en dissipline."
Wilhelm Strumpher: "Vraag is hoe gaan hul nog 'n 'ons wil als verniet hê' befonds. Deur die bietjie belastingbetalers wat oorgebly het verder melk en miskien by pensioenfondse leen? Dan moet hulle nog bankrot staatsinstellings ook befonds - ek sien nog 'n bankrot staatsbeheerde instelling op die horison."
Maar nie almal is negatief daaroor nie.
Chris Hendricks: "Die NGV en universele gesondheidsdekking is die pad om te loop. Goeie mediese sorg sal sosiale solidariteit te weeg bring, maar dit moet holisties en mens-gerig wees."
Jerome Meyer: "Dis 'n goeie idee wat prakties uitvoerbaar is. Dis net die wat het (en wat altyd verandering teenstaan) wat daarteen is, maar die wat nie het nie sal dit beslis waardeer."
Miskien dui Nita Bailey die rigting aan wat ingeslaan moet word: "Uit persoonlike ervaring van die huidige gesondheidsorgstelsel in landelike gebiede kan ek nie sien hoe 'n nuwe stelsel tot voordeel van diegene wat dringend hulp nodig het - en goeie gesondheidsorg belowe is - sorg van 'n hoë standaard gaan kry nie. Miskien moet die huidige stelsel eers herstel word voor gepoog word om dit met iets nuut te vervang." (Engelse kommentaar is vertaal.)
Lees 'n vorige artikel: Nasionale Gesondheidsversekering: Wat is die doel?
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'