Update
STILBAAI NUUS - Die nuwe LPR-kameras, wat voertuie se nommerplate herken en wat die afgelope paar weke in dié kusdorp, asook Jongensfontein opgerig is, het reeds handig te pas gekom.
Volgens kapt. Johan van Tonder, stasiebevelvoerder van Stilbaai-polisie, het die tegnologie van die kameras tot suksesvolle misdaadbekamping bygedra. Die kameras het onder andere onlangs gehelp met die opsporing van die bakkie wat plaaslik uit 'n woonbuurt gesteel en in die Oos-Kaap opgespoor is, terwyl dit ook dien as hulpmiddel in verskeie onlangse misdaadondersoeke.
Van Tonder en die voorsitter van die sakekamer, Rean Pretorius, is dit eens dat Stilbaai ligjare voor omliggende dorpe is wat dié tegnologie en kameras betref en is die suksesse ook toe te skryf aan strukture, soos die buurtwagstelsel en gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) wat in plek is.
Die kameras is deur Stilbaai-sakekamer, in samewerking met Whispernet en die Jongensfontein-inwonersvereniging aangebring, met Coastal Security wat dit kosteloos monitor.
Volgens Van Tonder word nommerplate van voertuie regoor die land wat by misdaad betrokke was of verdag is, in 'n stelsel genaamd Cloud SA ingevoer. Dié beheerkamer is 24 uur per dag operasioneel en verifieer al die inligting. Dit word dan gebruik om te help met die opsporing van gesteelde voertuie en beperk misdadigers se bewegings.
Een van die groot voordele van dié nuwe kameras is dat dit ook in die aand nommerplate kan 'lees'.
Met die gemeenskap se volgehoue finansiële ondersteuning, is die Blombospad en Melkhoutfontein-ingang volgende paaie en gebiede wat geteiken word vir kamera-installasies.
Lees verwante artikels:
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'