Advertorial
HESSEQUA NUUS - Die Stilbaai Sakekamer (SSK) en Jongensfontein Inwonersvereniging (JIV), in samewerking met Wispernet het die eerste LPR-kamera (Licence Plate Recognition) in die Hessequa-streek geïnstalleer.
Die kameras beskik oor die nuutste tegnologie wat soortgelyk is aan die kameras wat reeds geruime tyd op nasionale paaie gebruik word om elke voertuig se registrasienommer af te neem en op 'n nasionale databasis te stoor.
Wanneer 'n voertuig met 'n verdagte nommer die area binnegaan, word die voertuig binne 45 sekondes nagegaan en indien dit verdag voorkom, word die plaaslike polisie, die gesertifiseerde sekuriteitsdienste asook buurtwagte per SMS, WhatsApp of e-pos verwittig. Die polisie tree dan op na gelang van die misdaad.
Die kamera by Stilbaai het 'n gesteelde voertuig asook een met 'n gekloonde nommerplaat afgeneem binne twee uur nadat dit aangeskakel is.
Rean Pretorius, voorsitter van die SSK, is baie opgewonde oor hierdie resultate aangesien dit tot voordeel van elke inwoner van die streek strek terwyl die polisie ook die kameras verwelkom aangesien dit hul taak met die opsporing van voertuie vergemaklik.
Wispernet hanteer reeds vanaf 2011 die dataverspreiding van verskeie kameras op nasionale paaie vir die Wes-Kaap. Lohan Oosthuizen, direkteur van Wispernet, het nie net sy kennis en personeel beskikbaar gestel nie, maar het 'n groot finansiële bydrae gelewer om die projek te vervolmaak.
Die beeldmateriaal vanaf elke kamera word gratis op die Wispernet-netwerk na Coastal Sekuriteit in Stilbaai gestuur.
Voorbeeld van 'n verdagte voertuig wat voorsien word aan die area om op te volg.
Francois Rossouw van Coastal Sekuriteit het weer op sy beurt aangebied om die kameras 24/7 te monitor sonder enige kostes vir die gemeenskap.
Om al die kameras te monitor, het Wispernet die ekstra myl geloop en verskeie torings op eie koste opgerig tot voordeel van Stilbaai en Jongensfontein. Wispernet, wat die afgelope sewe jaar die datanetwerk en internetdiensverskaffer van die Hessequa-munisipaliteit is, gaan die dataverspreiding van die LPR-kameras na die nasionale databasis hanteer.
Verskeie kameras word vir die Hessequa-streek beplan met Riversdal volgende op die kalender.
Die positiewe ondersteuning van die munisipaliteit met die beskikbaarstelling van elektrisiteit en lamppale verseker dat die kameraprojek meer effektief uitgerol kan word en dit bevoordeel uiteraard die groter Hessequa-gemeenskap.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'