HESSEQUA NUUS - Suid-Kaap Forum verwelkom ‘n nuwe vryskutskrywer in ons midde, maar ‘n gesoute skrywer wie se skryfloopbaan oor 40 jaar strek.
Die Riversdaller Christiaan Johan de Swardt is op 13 Desember 1960 aan die voet van die pragberg, Die Slapende Skoonheid in die Wes-Kaap gebore.
Sy eerste gediggie is op 10-jarige ouderdom in Laerskool Volschenk se koerantjie Die Eseltjie gepubliseer. Hy het sy eerste kortverhaal, Die gevaarlike pakkie, op 12-jarige ouderdom in die tienertydskrif Tina gepubliseer en het daarna ook kortverhale vir die tyskrifte Trompie, Patrys en Ons Bou geskryf.
In 1979, terwyl hy in matriek was en die leerder-redakteur van Hoërskool Langenhoven se kwartaalblad Dasdinge was), het hy ? gereelde rubriek, Om my teetafel, vir die Vrystaatste streekkoerant, Vrystaat, onder redaksie van sy tannie – Antjie van Zyl – wat sy talent geëin het, behartig.
Sedertdien verdien hy sy bood en botter – en soms ook ‘n bietjie konfyt daarby – met die alfabet; die afgelope 20 jaar as ? vryskutskrywer.
In sy loopbaan wat oor 40 jaar strek, het hy in verskeie sfere van die joernalistiek en vermaakbedryf gewerk – van verslaggewer en teksredakteur by die dagblad Beeld en sosiale, jeug- en vermaakredakteur van die glanstydskrif De Kat tot redakteur en uitgewer van die tweetalige jeugtydskrifte 2-21 en 21 Magazine.
Hy het ook in sy studentejare aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit as dramaturg, akteur en regisseur geskep en bekroonde stukke opgelewer. Hy was die kunsteredakteur by die kampuskoerant Die HeRAUt, redakteur van sy koshuis, Drommedaris, se kwartaalblad Die Mishoring en die redakteur van die joolblad, Tjol’ 82.
CJ het tydens sy dienspligjare as draaiboekskrywer werk vir die SA Vloot gelewer en dokumentêre opleidingdramas en beeldbouprogramme vervaardig wat in verskeie tale oorgeklank en by Suid-Afrikaanse ambassades in die buiteland brue gebruik is.
Daarna was hy die hoofteksskrywer van die jeugsportprogram Perm Junior Sport op SABC2.
CJ se resensies – oor musiek, teater en rolprente - en kunstenaarprofiele is onder meer in Die Vaderland, Die Tansvaler, The Citizen, Tribute, Bona, Stywe Lyne, Essentials, Vonk, Keur, Vrouekeur, DEKAT, Taalgenoot, Rooi Rose en op die webwerwe afrikaans.com en LitNet gepubliseer.
Hoewel hy in die kunstejoernalistiek en as musiekresensent spesialiseer, is hy deeglik in diepteverslaggewing opgelei en het hy naas ondersoekende artikels vir DEKAT ook oor kinder- en jeugkwessies, gesondheid en geldwysheid vir die tydskrif Kuier geskryf.
Hy het in die tagtigerjare aan Daan Retief Uitgewers se leefstyl-klubreeks meegewerk en die geestesgesondheidreeks Perspektief .
Hy was die samesteller, ontwerper en redakteur van M-Net se boek Red Nose Book of Records. Hy het ook ‘n reeks konsep-CD’s saamgestel en sy konsepalbum, Boerejol, is met ‘n SAMA-toekenning bekroon. CJ het ook ‘n solo-CD, Die loslit-album, uitgereik.
Hy het saam met sy jarelange kollega en vriendin, Christa Swanepoel die gewilde kinderalbum Ouma se slaaptydstories geskryf. Hulle het gewilde sprokies avontuurlik en uitdagend herbesoek. Die gevierde stemkunstenaar Margot Luyt lees die verhale voor.
Met CJ se kundigheid oor musiek was hy ‘n beoordelaar vir die OKTV-, AKTV-Lier-, SAMA en kykNET-Ghoema-musiektoekennings.
Hy het sy musiekrubriek Oppinoot vir 30 jaar vir Vrouekeur behartig. Dié is in 2013, 2014 en 2015 met die Caxton Magazine Excellence Award in die afdeling beste resensent vereer.
Sy jeugrubriek Loslit is in die negentigerjare met twee Mondi-toekennings vir uitmuntende tydskrifjoernalistiek bekroon. Hy spog met drie BASA-toekennings.
Dit is die National Arts Festival/Business and Arts South Africa-toekenning vir kunstejoernalistiek. Hy het silwer toekennings in die afdelings Beste Profiel-artikel en Beste Resensie vir sy KKNK-oorsig ontvang.
Hy is ook met die goue BASA-toekenning bekroon vir sy futuristiese, satiriese kommentaar in die afdeling Beste Kunstenuus-artikel – met die titel ? Moerse Klug.
CJ se bydrae tot die bevordering van Afrikaanse musiek is met oor die 20 goue en platinum-toekennings deur verskeie platemaatskappye erken.
Met die koms van Covid 19 en die gevoglike korona-pandemie en die ingrypende gevolge daarvan in Maart vanjaar het Caxton Publishing besluit om onder meer die tydskrifte Vrouekeur en Rooi Rose - vir wie Christiaan geskryf het - te sluit.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'