STILBAAI NUUS - Planne om 'n splinternuwe doelgeboude argeologiese museum op erf 657 oorkant Stilbaai-gholfklub te bou is al in 'n gevorderde stadium.
Dié museum word tans in die gebou van die Stilbaai-toerismeburo gehuisves, met interessante inligting oor onder andere die Blombosgrot en die geskiedenis daaragter.
Die passie waarmee Izak Venter, voorsitter van die Hessequa vereniging vir argeologie jou in die geskiedenis van die Blombosgrot terugneem, laat mens enersyds klein voel, maar aan die anderkant wil jy net nog meer weet van die homo sapiens (moderne mens) wat van hier af die wêreld in is.
Die Blombosgrot is nie vir die gewone publiek toeganklik nie, omdat daar aktief navorsing gedoen word en dit 'n groot rede is om beskadiging te voorkom. Dit is in 'n privaat natuurreservaat geleë en moeilik bereikbaar. Die museum met sy talle uitstallings, geskrifte en pragtige foto's maak egter op hiervoor.
Die navorsing het reeds bo alle twyfel bewys dat daar mense in daardie grot en omgewing 100 000 jaar gelede geleef het. Klipwerktuie, naalde van been en oker vir verf is maar 'n paar goed wat daar ontdek is. Die bekende Stilbaai Punt, waarvan 'n model voor die gebou staan, is steeds die oudste bewys in die wêreld dat klipwerktuie deur middel van vuur meer as 70 000 jaar gelede aan die Suidpunt van Afrika gemaak is.
Hoewel vis en seekos maklik bekombaar was, is selfs bewyse in die grot gevind dat hulle mosselkrakers in die hande kon kry. Hulle het ook gejag en die duinemol was eerste op hulle lys, gevolg deur dassies, steen- en grysbokkies en van tyd tot tyd selfs elande. Hulle was ook baie kunstig en bewyse van halssnoere met verskillende soorte skulpe is gevind.
'n Paar jaar gelede het 'n groep wetenskaplikes in 'n studie bevind dat die homo sapiens uit Suidelike Afrika oorleef, ontwikkel en hiervandaan na die res van die wêreld beweeg het. Die vondse wat in die Blombosgrot gevind is, het grootliks tot hierdie slotsom bygedra.
Die grot is as 'n provinsiale erfenisgebied verklaar, maar vir alle praktiese doeleindes is hierdie 'n wêreld erfenisgebied waarop Stilbaaiers met reg trots kan wees. Stilbaai het ook die oeroue visvywers, die skulpkombuis en die Geelkrans fossielspore om 'n paar te noem.
Besoek gerus die museum en spandeer tyd om uit te vind hoe ons voorvaders oorleef het sonder moderne masjinerie. Maandae tot Vrydae oop vanaf 08:30 tot 17:00 en Saterdae van 08:30 - 12:30.
Die bekende Blombosgrot in Stilbaai.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'